GEORGE NUUS - Twee volwasse broers van Pacaltsdorp (in hulle 50's) wat nog nooit by die departement van binnelandse sake geregistreer was nie, se name verskyn nou uiteindelik op die bevolkingsdatabasis. Dit is meer as 'n jaar nadat hulle om identiteitsdokumente aansoek gedoen het.
Die George Herald het vroeër berig oor 'n uitdagende proses waartydens bewys gelewer moes word van die twee se identiteit. Die Lourens-broers, Dennis en Adam, is volgens familielede in Skimmelkrans gebore. Hulle ma het hulle nooit geregistreer nie.
As dit nie was dat Isaac en Marilyn Korunna, 'n goedhartige egpaar van Pacaltsdorp, hulle oor die twee se lot ontferm het nie, sou hulle vandag nog nie identiteitsdokumente gehad het nie.
Die Korunnas het baie tyd spandeer om die broers verskeie kere na binnelandse sake te vergesel, te sorg dat getuies by binnelandse sake onderhoude doen om getuienis te lewer van hul identiteit, en die twee te help om 'n ouderdomskatting deur 'n dokter gedoen te kry.
Die plaaslike raadslid Virgill Gericke het ook sy gewig ingegooi om te help. Tussendeur was daar maande lange wagperiodes waarin dit gevoel het asof die departement van hulle aansoeke vergeet het.
Die nagmerrie van burokratiese rompslomp was egter die moeite werd. Die twee het hulle ID's in Augustus ontvang.
Dennis wil vir ongeskiktheidspensioen aansoek doen nadat hy in 'n aanranding beseer is en nie meer 'n lewe uit tuinwerk kan maak soos wat hy al jare doen nie. En wanneer Adam, ook 'n tuinier, nou werk soek, sal hy 'n ID hê om te wys hy is 'n wettige inwoner van die land.
Albei het gesê hulle is die Korunnas en Gericke vir altyd dank verskuldig vir hulle onbaatsugtige hulp.
Adam Lourens is nou amptelik 'n Suid-Afrikaner.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'