Update
GEORGE NUUS - Die brand in Rosedale, waarin vier huisgesinne Sondag alles verloor het, was blykbaar wraak van 'n kêrel. George Herald het gehoor dat die persoon, wat saam met die Rosedale-buurtwag werk, glo voorheen vrygekom het na daar klagtes teen hom gemaak is.
Lede van die Louw-, Mingo-, Erasmus-, Lategan- en Pretorius-families het Maandagoggend vertel van hulle het alles verloor en ander is groot skade berokken.
Een vrou, wat baie emosioneel was, sê hulle kan nie meer stilbly nie. Sy vertel: "Daar is al twee keer klagtes teen hom gemaak, en daar het niks van gekom nie. Nou moet ons almal suffer."
Blykbaar het die man vroeër gedreig om sy meisie se opslaanhuis af te brand, omdat hy dit gebou het. Daar is vertel dat hulle 'n baie onstuimige verhouding het waar hy haar telkemale aangerand en voor mense in die pad verneder het. Niemand wil egter amptelik 'n klag by die polisie lê nie.
Iemand het aan George Herald vertel, dat hulle vrees dat die ondersoek lank kan neem en hulle wil net aangaan met hul lewens.
Die betrokke families is erg getraumatiseerd deur dit wat gebeur het en weet hulle sal nie gou antwoorde kry nie. Hulle wil weet hoekom die man nie net die plek afgebreek het nie, hoekom ander se besittings en lewens in gevaar stel?
'n Ooggetuie op die toneel het Sondag gesê die brand het in 'n struktuur in 'n gangetjie ontstaan.
"Ons het in die straat gestaan, rook het by die venster uitgekom en toe was daar oral vlamme." Hy vertel hy het onmiddellik die brandweer gebel en self gehelp om die vlamme te blus.
Die Pacaltsdorp-polisie het nie op navrae van die George Herald oor klagtes van moontlike brandstigting gereageer nie.
George-munisipaliteit
Debra Sauer, 'n kommunikasiebeampte van George-munisipaliteit, sê hul departement menslike nedersettings het Maandag die nodige dokumentasie van die slagoffers gekry. Sy het bevestig dat hulle drie families gaan help met strukture.
"Die dokumentasie van die ander families moet nog geverifieer word," sê Sauer.
Daar moet egter kennis geneem word dat 'n ondersoek aan die gang is, wat ook sal bepaal wie kwalifiseer. "Strukture wat net 'n slaapkamer was, gaan nie vervang word met 'n nuwe struktuur nie. As gevolg van begrotingbeperkings, sal families met kinders eerste gehelp word."
Edmund Bussack, wyksraadslid van Wyk 14, doen 'n beroep op die gemeenskap vir hul ondersteuning in die vorm van klere (volwassenes en kinders), meubels of enige ander bydrae vir die drie gesinne (ses volwassenes en agt kinders). Skakel Bussack by 073 516 6216.
Lees 'n vorige artikel | Rosedale: 4 strukture in brand verwoes
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'