GEORGE NEWS - Kinders van Blanco en hul uitgebreide gesinne het 'n vreugdevolle Kersfunksie op Saterdag 9 Desember geniet. Sowat 1 500 mense het die geleentheid, Carols by Candlelight, met die tema, God is liefde, bygewoon.
Hierdie inisiatief van Zenzele-nasorg het oor die afgelope paar jaar gegroei.
Volgens een van die bestuurslede, Johannes Williams, was verlede naweek se saamtrek 'n reusesukses.
Kinders en hul ouers het by die oop stuk grond by die United Congregational Church in Blanco, Fortuinstraat, bymekaargekom.
"Die weer was fantasties en het goed saam gespeel. Ons kon altesaam 921 kinders en ouers met ordentlike lekkergoed en koek bederf," het Williams gesê.
"Professionele kunstenaars het opgetree en 'n groot optog het omstreeks 17:00 by busstop nommer sewe begin, deur Riverlea beweeg, tot in Fortuintraat, onder leiding van die United Congregational Church van Pacaltsdorp se blaasorkes."
'n Kersboodskap is deur Apostel Donovan Swartz gelewer, en 'n program van lof en aanbidding, kreatiewe danse, sang en musiek, koorsang en voorsang het gevolg.
Kerssang en aanbidding in Blanco.
Families wat geliefdes in 2023 aan die dood afgestaan het, het 'n kans gekry om 'n wit ballon ter nagedagtenis aan hul geliefde in die lug los te laat. Kerse is aangesteek vir vrede, hoop, liefde en blydskap. Ejustley Boshoff het 'n praatjie oor geweld teenoor vroue en kinders gelewer.
Wit ballonne ter nagedagtenis aan geliefde wat aan die dood afgestaan is, is in die lug los gelaat.
Zenzele-nasorg bedank alle donateurs, kunstenaars, EDENfm, George Herald en die hele Blanco-gemeenskap vir hul ondersteuning.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’