GEORGE NUUS - Blanconaars was vandeesweek vir drie dae sonder water. Gebarste waterpype was die oorsaak van die probleem.
Die pyplyn het Sondagoggend omstreeks 11:00 gebars en is teen laat Dinsdagmiddag herstel. Sekere inwoners het egter steeds gekla dat hulle nog nie water het nie. Enkele ure later het 'n kragkabel wat huise in Searle-, Maitland-, Werda- en Boshoffstraat met krag bedien, onklaar geraak.
Volgens Liana van der Rijst, sekretaresse van die Blanco-buurtwag en 'n lid van die wykskomitee, het inwoners 'n voorsmakie gehad van hoe dit is om sonder water en krag te lewe.
George-munisipaliteit het twee waterpunte voorsien waar inwoners water kon gaan haal, sowel as 'n trok wat water na inwoners in die buurt neem. Van der Rijst het gesê dit was steeds 'n uitdaging om water te bekom, want die mobiele trok het nie werklik by punte gestop nie. "Hulle het vreeslik rondgery.
Inwoners van Maitlandstraat in Blanco is sonder krag gelaat, kort nadat die watertoevoer Dinsdagmiddag herstel is.
"Die idee was om oumense te help wat nie kan ry nie, maar ons het gevra dat hulle net nog 'n trok voorsien wat langer op 'n plek stilstaan. Mense moes buite staan en wag tot die trok verbykom, of agter die trok aanry as hulle dit gemis het."
Vleiland en vakansie bemoeilik saak
Die pyplyn wat Sondagoggend gebars het, is 450 mm in deursnee en verskaf water aan drie reservoirs in Blanco. Die pypbreuk is geïsoleer om verdere waterverliese te voorkom. Herstelwerk kon eers op Maandag 18 Maart begin weens die kompleksiteit van die werk en die materiaal en toerusting wat benodig word om hierdie taak te verrig.
'n Tussentydse reëling is ingestel om water via die ou toevoerlyn te voorsien, wat beide die sentrale sakekern en die Blanco-gebied voed. Verhoogde watergebruik tydens die skoolvakansie het verdere druk op die saak geplaas.
Die pypbars het binne 'n vleilandgebied plaasgevind, met moeilike toegang tot die terrein. Die pyp is Dinsdagmiddag, 19 Maart, om 14:00 herstel en die pypleiding is geleidelik gevul. Volle watertoevoer en waterdruk is omstreeks 19:00 die aand herstel.
Elektrisiëns het gister (Woensdag) aandag aan die kragprobleem gegee. Kragonderbrekings kan na 'n pypbars ontstaan omdat kabels nat word of ander probleme opduik.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'