GEORGE NUUS - Icosa (Independent Civic Organisation of South Africa) in samewerking met die PBI (Plaaslike Besorgde Inwoners) gaan ‘n gesamentlike plakkaatbetoging hou vandag, Saterdag 7 April, tydens die wedstryd tussen die Southern Kings en Munster op Outeniquapark.
Volgens Virgill Gericke het hulle toestemming om tussen 16:00 en 19:00 by die stadion te betoog.
“Ons hoofoogmerk is om ons stem te laat hoor oor transformasie in Suid-Afrikaanse rugby. Ons wil meer spelers van kleur op die veld sien en meer verteenwoordiging van mense van kleur in die topbesture provinsiaal en nasionaal.”
In ‘n griewelys wat deel is van ‘n mediaverklaring wat die twee partye uitgereik het, vra hulle onder meer vir die onmiddellike afdanking van die uitvoerende hoof van SA Rugby, Jurie Roux; dat alle professionele spanne ten minste “60% nie-wit” moet wees; en vir die daarstelling van ‘n duidelike ontwikkelingsplan vir klub- en junior rugby in voorheen benadeelde gebiede.
Luidens die verklaring was die onlangse afdanking van Allistair Coetzee die “kersie op die koek” en kon hulle “nie langer agteroor sit en toesien hoe nie-wit spelers en afrigters onderdruk en verdruk word nie”.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'