TUINROETE NUUS - Die Caves-aftreeoord buite Oudtshoorn was die gasheer vir vanjaar se AJV vir lede van Baask (Belangegroep vir Aftreeoorde en aanverwante instansies in die Suid-Kaap). Baask is op 12 Junie 2009 by die Hartenrus-aftreeoord gestig.
Daar is tans 22 oorde en instansies van oor die hele Suid-Kaap geaffilieer by Baask. Die voorsitter, Eric Bekker, het tydens die AJV gesê twee belangrike doelstellings van Baask is om sake van gemeenskaplike belang vir aftreeoorde en aanverwante instansie in die Suid-Kaap te koördineer en om poel van kundiges in aftreeoorde en aanverwante instansies tot groter voordeel te benut. Hy het by die vergadering sy uittrede as voorsitter aangekondig.
"As ek tydens my termyn vir iemand iets kon beteken, van raad kon bedien, of 'n verskil kon gemaak het, is ek baie dankbaar daarvoor. In die proses het ek 'n magdom van kennis en ervaring opgedoen wat ek altyd sal koester."
Daniëlla de Jager van Barkley Oates Ingelyf het 'n praatjie gelewer oor prosteses en ander hulpmiddels wat die lewe van ouerwordende persone kan vergemaklik. Die veiligheid van bejaardes was ook een van die onderwerpe wat aangeraak is deur 'n praatjie van ao. Pieter Koekemoer oor metodes wat misdadigers gebruik om bejaardes uit te buit.
Aangesien die bestuur se termyn eers in 2020 verstryk is Gert Meiring tot met die volgende AJV in 2020 as waarnemende voorsitter aangewys. Die huidige bestuur van Baaskis: Gert Mering (voorsitter), dr. Gerrit Theron (ondervoorsitter), Bets Wilkinson (skakelbeampte), Janita Janse van Rensburg (sekretaris/tesourier) en addisionele lede Johan Jacobs en Juanita van Wyk.
Gaste, verpleegkundiges en bestuurders van aftreeoorde wat die AJV bygewoon het.
Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'