GEORGE NUUS - Die familie van Iando Minnie (44), bekende sakeman van Blanco, is in rou gedompel nadat hy gisternag, Vrydag 7 Mei in 'n ongeluk op die N2 buite George oorlede is.
Volgens sy suster, Larein Pienaar was hy op pad van George na Glentana. Die ongeluk het vermoedelik ná middernag naby die Maalgate-brug gebeur.
"Ons is nog in die duister oor presies wat gebeur het. Daar was blykbaar klippe in die pad en die motor kon moontlik gegly het," het sy gesê.
Minnie was mede-eienaar saam met sy pa, Koos, van die bekende Carlu Trekkers in Blanco.
Volgens Pienaar was haar broer wyd bekend in die boeregemeenskap. Hy was onder meer verantwoordelik vir die implement- en trekkerverkope.
Minnie was 'n entoesiastiese motorfietsryer wat graag op sy motorfiets saam met vriende weggebreek het.
Hy laat sy vrou, Anica, dogter Milè (8) en seun Kodi (13) agter.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het gesê die ongeluk het omstreeks 00:15 plaasgevind. 'n Strafbare-manslagdossier is geopen vir verdere ondersoek.
"Voorlopige inligting dui daarop dat die 44-jarige bestuurder van die wit Toyota Land Cruiser beheer oor die voertuig verloor het toe die voertuig na bewering teen die kant van die pad teen 'n rotswand gebots het. Die voertuig het toe gerol en op die padoppervlakte op sy dak tot stilstand gekom.
"'n Nadoodse ondersoek sal gedurende die week gedoen word om die presiese oorsaak van dood te bepaal. In die proses het die bestuurder op die toneel aan sy wonde beswyk. Daar was klaarblyklik geen ander persone of voertuie by die ongeluk betrokke nie. Ondersoek deur die George-speurtak duur voort," het Pojie gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'