GEORGE NUUS - 'n Bekende en geliefde in George se rugbykringe, Leon Hendricks, is Sondag 2 Augustus ter ruste gelê.
Die 45-jarige Hendricks het op 28 Julie onverwags gesterf. John Bruinders, 'n boesemvriend het Maandag gesê hulle het mekaar 18 jaar geken en was beide stigterslede van die Maori's-rugbyvoetbalklub.
Bruinders het in die verlede ook onder meer gehelp om Hendricks af te rig. In sy speeldae het Hendricks as haker en stut in die voorry gesak. Volgens Bruinders het Hendricks se skielike heengaan skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Hy het vir homself gewerk en was motorwerktuigkundige en elektrisiën. Die dag met sy dood het hy nie goed gevoel nie. Hy het 'n pyn op sy hart gehad en is na 'n spreekkamer van 'n dokter van die George-hospitaal geneem. Hy is daar oorlede.
"Ek was baie geskok toe ek hoor hy is dood," het Bruinders vertel. Hy het gesê Hendricks was vredeliewend, 'n raadgewer en behulpsaam in die gemeenskap. Hy was 'n bestuurslid van die rugbyklub.
"Hy het groot planne vir Maori's-rugbyvoetbalklub gehad. Die klub is van voorneme om hom te vereer vir sy bydrae. Ons wil aanstaande jaar 'n rugbydag hou wat aan hom gewy sal wees. 'n Beker met sy naam sal die dag op die spel wees."
Hendricks word oorleef deur sy vrou, twee seuns en twee dogters.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'