GEORGE NUUS - Bekende meubelmaker van Pacaltsdorp, George Richard van Niekerk (65), is vroeër die maand op 11 Januarie oorlede na 'n kort siekbed.
In menige huise is daar een of ander houtproduk wat deur Van Niekerk gemaak is.
Sy familie sê daar is selfs een vrou wat haar hele huis se meubels vervang het met unieke meubelstukke wat deur Van Niekerk gemaak is.
Hy het nooit dieselfde idee twee keer gebruik nie, elke meubelstuk was uniek.
Hy het vir kerke kansels teen billike pryse gemaak en vir sommige dit selfs gratis gedoen. Vir skole, verskeie organisasies, sportklubs en die munisipaliteit het hy etlike trofeë en aandenkings gemaak.
Van Niekerk kon enigiets maak, soos hy altyd gesê het van 'n ring tot 'n vertoonkas. Mense kon net 'n prentjie wys of 'n idee gee van wat hulle wou hê en hy kon dit perfek doen. Baie is na hom verwys vir een of ander ongewone produk wat groot instansies nie kon maak nie.
Van Niekerk het hoofsaaklik met soliede hout gewerk.
Houtwerk was sy groot passie, maar naas dit het hy ook 'n groot liefde vir kosmaak gehad. Hy het nooit min kos gemaak nie, want hy het geglo hy maak ook vir diegene wat nog gaan opdaag.
Al sy kinders het een of ander kunstigheid by hulle pa geërf.
Hy laat sy vrou, vyf kinders (3 dogters en 2 seuns), 11 kleinkinders en een agterkleinkind agter.
Sy houtwerk sal voortgesit word deur sy twee seuns Loghan en George (Junior) van Niekerk.
George van Niekerk by sy eerste groot houtwerkprojek wat hy aangepak het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'