GEORGE -Die plaaslike kunstenaar, Dirk van Wyk, wat wye bekendheid met sy lewensgetroue skilderye en beelde verwerf het, het op Donderdag 4 Maart gesterf.
Sy vrou en lewensmaat van 22 jaar, Hildé van Wyk, vertel dat dit ‘n groot skok vir die gesin is, aangesien Dirk daardie einste dag in die hospitaal opgeneem is met, wat later verneem is, klierkanker.
Dirk het blykbaar die laaste sewe maande gekla van pyn in sy ledemate en het heelwat gewig verloor. Die oorsprong van sy simptome is egter eers op die dag van sy dood korrek gediagnoseer.
"Maar, ons berus ons daarby. Dirk het altyd gesê: ‘Jou tyd is jou tyd’," sê Hildé.
Sy vertel dat hulle mekaar destyds ontmoet het toe sy skilderklasse by die Suid-Kaap Kollege geneem het. Hildé beskryf haar man as ‘n saggeaarde, hulpvaardige mens wat selfopofferend en geduldig was.
"Hy was baie, baie gemaklik met homself en het nie veel waarde aan aardse dinge geheg nie. Dirk was ‘n gelykmatige mens en het nooit kwaad geword nie. Hy was een van die mees volwasse mense wat ek geken het," sê sy.
Die laaste drie jaar was Dirk besig met ‘n beeldhouwerk van ‘n reuse aalwyn vir Alcare, wat nou deur sy beeldhouervriend, Francois de Wet voltooi word.
Dirk het blykbaar daarna uitgesien om die projek te voltooi aangesien hy baie bestellings vir skilderye gehad het en dit gemis het om met sy kwaste te werk.
Dirk se drie dogters Roxy (26), Mignon (19) en Monique (17) het net goeie herinneringe aan hul pa.
Dirk is begrawe vanuit die AGS Soteria-gemeente in George.
Artikel: Michelle Pienaar
‘n Deel van die reuse aalwynplant waarmee Dirk besig was.