GEORGE NUUS - Omring deur familie en vriende het Joh Groenewald, 'n bekende inwoner van George, die afgelope Saterdag sy 80ste verjaarsdag by Bygracealone in Geelhoutboom gevier. Groenewald het reeds op 6 November die mylpaal bereik, maar Saterdag is daar behoorlik saam gekuier.
Groenewald is baie bekend in die kringe van omgewingsbewaring, erfenis en seëlversameling. Op sy dag was hy onder meer 'n joernalis in die parlement vir 'n publikasie en betrokke by die kommunikasiebedryf.
Die gastelys was 'n weerspieëling van sy wye belangstellingsveld. Onder die gaste was sy lewensmaat Muriel Hau-Yoon, sy broer Evert Groenewald, 'n afgetrede skout-admiraal in die vloot en sy suster, Trudie Groenewald, hoof van 'n argitekspraktyk in die Kaap.
Albert Nothnagel, wat destyds saam met hom op dieselfde skoolbanke in Pretoria gesit het, was ook teenwoordig. Nothnagel was in die vorige politieke bedeling 'n NP-parlementslid en later Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland. Nothnagel en nog 'n oudambassadeur, Natie de Swardt, het by dieselfde tafel gesit en het kopstukke gesels.
De Swardt was voorheen Suid-Afrika se ambassadeur in Swede. De Swardt en Groenewald ken mekaar deur onder meer erfenisbewaring. Gaste is met hul aankoms verwelkom met die trekklaviermusiek van Petrus Möller. Hy is betrokke by werkskepping in minderbevoorregte gemeenskappe.
Mense wat Groenewald goed ken weet dat hy nie maklik oor homself gesels nie. En so was dit ook Saterdag.
Hy het eerder van tafel tot tafel geloop en die wye verskeidenheid gaste bekendgestel.
"So het 'n verjaarsdag kom net een keer. Gewoonlik is ek sku vir sulke dinge, maar ek is omgepraat," het hy later aan die George Herald vertel. "Ek is bly ek kon dit saam met familie en vriende vier."
Hau-Yoon wat die geleentheid gereël het, het gesê dit is 'n geskenk van Bo dat Joh nog gesond is en almal saam sy 80ste verjaarsdag kon vier. "Ons is baie bly dat almal daar kon wees."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'