GEORGE NUUS - Binnerym van bloed, ook beskryf as ’n outobiografiese roman van die bekende skrywer en digter Antjie Krog, was onder die loep tydens die onlangse byeenkoms van die Groot-Brak-leeskring wat in Glentana gehou is.
Jonathan Amid, ’n bekende resensent, het Binnerym van bloed wydlopend bespreek. Hy het ook algemene insiggewende aspekte rakende boekresensies toegelig.
Wat Binnerym van bloed betref word grotendeels gefokus op die verhouding tussen Krog en haar ma, Dot Serfontein, wat ook ’n bekende skrywer was en wat in 2016 oorlede is.
Krog maak in die boek ook ’n terugkeer na belewenisse uit haar kinderdae op onder meer die Vrystaatse plaas waar sy grootgeword het.
Leeskring
Met die uitsondering van Julie en Desember vanjaar, asook Januarie aanstaande jaar wanneer die leeskring nie vergader nie, vind die byeenkomste van die leeskring elke tweede Woensdag van die maand om 10:00 plaas.
Vanaf Februarie 2026 sal die leeskring in die kerksaal van die Gereformeerde Gemeente in Groot-Brakrivier byeenkom.
Wanneer byeenkomste vanaf 14 Augustus hervat word sal Is jy orraait, Elizabeth van Rozaan de Wet Boer bespreek word.
Ander boeke wat vanjaar tydens latere byeenkomste bespreek sal word is Die dood van Rachel April deur P P Fourie, Roulette deur Sidney Gilroy, asook Donkermaan en Sekelmaan deur Jaco Wolmarans.
Vir die bywoning van die byeenkomste word R100 van lede en R120 van nie-lede gevorder. Jaarlikse ledegeld word aan die begin van elke jaar vasgestel.
Vir meer inligting oor die leeskring kan Etty Bosman by 083 501 0845 geskakel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’