GEORGE NUUS - Pieter Potts (59) van Conville, wat op Vrydagaand 24 April deur ‘n bus van Go George op die hoek van Nelson Mandela-boulevard en Streepkoppiestraat getref is, sal Saterdag 9 Mei begrawe word.
Die diens sal in Swawelstraat, by die woning van sy neef en PA-lid van die Wes-Kaapse wetgewer, Brendon Adams, plaasvind.
Adams sê Potts was ’n hulpvaardige persoon met ’n sin vir humor en ’n groot liefde vir sy familie. “Jy het hom ver hoor aankom as hy vir jou kom kuier het. Hy was ‘n regte grapjas,” vertel Adams.
Potts is in Kwartelstraat in Conville gebore en het daar grootgeword. Hy het onder meer verfwerk gedoen en was ook bekend daarvoor dat hy mense se hare gesny het. “Hy self was erg oor sy eie hare en het dit altyd lank gedra.”
Volgens Adams was Potts, wat in Streepkoppiestraat gewoon het, op pad huis toe van sy suster in Borcherds toe die ongeluk plaasgevind het. Die tragedie volg kort nadat sy pa sowat twee maande gelede begrawe is, wat die verlies vir die familie nog moeiliker maak.
Potts is die broer van Carly Adams, bekende haarkapper van George en organiseerder van die kompetisies 'Miss Full Figure' en 'Little Miss George'.
In ‘n plasing op sosiale media het Adams die Potts- en Adams-families en die breë familie se diep hartseer oor sy dood uitgespreek.
“Dit is ’n uiters pynlike tyd vir ons familie, en ons vra dat ons privaatheid gerespekteer word terwyl ons rou en probeer sin maak van hierdie groot verlies,” lui die verklaring.
Die familie het beklemtoon dat hulle antwoorde soek oor wat tot die ongeluk gelei het en ’n beroep op Go George en die George-munisipaliteit gedoen om deursigtig te wees en saam te werk met die ondersoek.
“Terselfdertyd wil ons dit duidelik stel dat ons geen voorneme het om die saak te verpolitiseer nie. Ons respekteer die regsproses en vertrou dat die owerhede die saak deeglik en regverdig sal hanteer.”
Go George het ook sy medelye betuig en bevestig dat hy ten volle met die owerhede saamwerk. “Go George betuig sy innige meegevoel met die familie en geliefdes van mnr. Pieter Potts. Ons gedagtes is by almal wat hierdie verlies betreur. Die saak is by die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir ’n volledige ondersoek, en ons werk ten volle saam,” het die busdiens gesê.
Potts laat sy dogter, Marilyn, en kleinkinders agter.
Read a previous article:
Pedestrian dies after being hit by a bus
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’