Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Open 'n register van mense wat skuldig bevind word aan korrupsie wat op dieselfde basis funksioneer as die nasionale register vir seksuele oortreders. Die pleidooi is deur Ndileka Patience Booi, areakommissaris van die departement korrektiewe dienste Suid-Kaap, tydens 'n anti-korrupsie geleentheid gelewer.
Dit is onder die vaandel van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsels (GCIS) aangebied. Verteenwoordigers van sowat 40 belangegroepe waaronder korrektiewe dienste, die polisie, die departement van justisie en die George-sakekamer het die geleentheid bygewoon.
Hulle was dit eens dat korrupsie uitgeroei moet word en sigbare resultate is nodig.
Na die geleentheid is anti-korrupsie pamflette by die GO GEORGE busvertrekpunt en die taxistaanplek in die middedorp uitgedeel.
Tydens die geleentheid by George Lodge International is aanwesiges gevra om insette te lewer. Die inligting sal verwerk word en is deel van 'n aanloop. Op 7 Desember sal
pres. Cyril Ramaphosa 'n nasionale anti-korrupsie veldtog bekendstel. Dieselfde dag word 'n anti-korrupsie veldtog ook op Oudtshoorn gehou en op 9 Desember is dit internasionale anti-korrupsiedag.
Muller Redelinghuys, senior staatsaanklaer by die landdroskantoor in George, het mense gevra om seker te maak dat hulle weet wat korrupsie is. "Dis belangrik dat die publiek hulle sal vergewis oor die wet op voorkoming van korrupte bedrywighede, Wet 12 van 2004."
Mense wat 'n bewering oor korrupsie oor iemand anders maak, moet hulle vergewis wat is die wetsbepalings ten opsigte van korrupsie. Sodoende kan hulle keer dat hulleself in 'n penarie beland. Verkeerde bewerings kan beteken dat hulle in 'n hof beland op aanklagte van crimen injuria.
Kyk video's hieronder:
Jetrho Grootboom van GCIS se plaaslike kantoor, het gesê die doel van die geleentheid is om die verskillende staatsdepartemente en ander belanghebbendes bymekaar te bring om te besin oor korrupsie. Daar gaan gepoog word om korrupsie binne die verskillende sektore uit te skakel.
Korrupsie raak dienslewering negatief en is 'n maatskaplike probleem. Almal moet betrokke wees by pogings om dit teen te werk. Korrupsie hou ook die moontlikheid in om die land van koers af te kry. "Ons wil dit met wortel en tak uitroei in die gemeenskappe en die land. Ons wil mense bewus maak oor hoe hulle korrupsie kan uitroei en hoe om op die uitkyk daarvoor te wees."
Volgens Grootboom is korrupsie as't ware diefstal. Dit kan nie goed gepraat word nie.
Geraldinne Thops, Wes-Kaapse direkteur van GCIS, het gesê aanwesiges is die boodskappers om korrupsie te beveg. Daar is 'n opvatting dat korrupsie net in die regering voorkom. Dit is nie waar nie. Dit kom oral voor.
Dit is ook nie net een individu wat betrokke is soos byvoorbeeld 'n werknemer van die departement van binnelandse sake nie.
Van die aanwesiges wat die anti-korrupsie geleentheid in George bygewoon het. Foto: Eugene Gunning
Ouers moet kinders van kleins af aanmoedig om nie by korrupsie betrokke te raak nie. Voorts moet kinders van kleins af geleer word dat hulle nie afhanklik is van 'n spesifieke individu om 'n werk te kry nie. Hulle moet geleer word, dat jy 'n werk verdien. Sy het mense gevra dat hulle nie moet ophou om korrupsie aan te meld nie.
Dr. Dennis Farrel, voorsitter van die George-sakekamer, het gesê korrupsie kom ook in die privaat sektor voor. "As ons nie die regte leiers het nie, gaan dit 'n probleem bly." Planne om korrupsie hok te slaan, moet nie net by woorde bly nie, maar omgesit word in dade.
Hy het gevra dat sakeleiers meer betrokke moet raak by pogings om korrupsie te bekamp.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'