GEORGE NUUS - Bedags leef hy sy liefde vir diere uit as 'n hokbestuurder by die plaaslike DBV. Maar buite sy werkure leef hy sy passie vir kuns uit deur die allermooiste houtskoolsketse op te tower.
Buiten kuns as hoërskoolvak, het Elrico Elbrecht van Borcherds geen formele kunsopleiding gehad nie, en dit wat hy wél weet het hy homself geleer.
Hy noem dat dit hom sowat 'n dag en 'n half neem om 'n A3-grootte skets van begin tot einde te voltooi.
Volgens Elbrecht het sy kunsloopbaan in 2009 begin toe hy sy skoolloopbaan by Hoërskool George begin het. 'n Vriend en plaaslike kunstenaar, Juandré Ekstraal, wat toevallig ook in die verlede by die DBV gewerk het, het ook vir hom wenke gegee om hom aan die gang te kry.
Vir Elbrecht is sy kuns iets waarin hy homself kan uitleef. "Dit gee my afleiding en tyd om my kop skoon te kry. Ek gebruik meeste van die tyd my etensuur by die werk om aan my sketse te werk. By die huis het ek ander pligte, so dis maar moeilik om tyd te maak," sê hy.
Elbrecht sê hy gaan hierdie jaar fokus plaas op die armoede in die omgewing deur die kinders in Borcherds as tema te gebruik. "Ek bly in Borcherds en ek wil mense wys wat daar buite aangaan om bewusmaking te skep," sê hy.
Buiten houtskool gebruik Elbrecht ook soms pastel en olie verf, maar sê houtskool bly sy gunsteling media.
Hy doen ook sketse op aanvraag en kan baie maklik van 'n selfoonfoto af werk.
Elbrecht het die vermoë om realistiese emosie in sy kunswerke vas te vang.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'