Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - 'n Paar manne wat al jare met hulle gades na afloop van die besige feesseisoen tot verhaal kom deur op Hartenbos te gaan kamp, maak só lekker saam musiek dat hulle al bekend staan as die Hartenbos Kampvriende Orkes.
Dié vierstuks laat die voete in die karavaanpark behoorlik jeuk met boeremusiek uit die hoogste rakke en niemand kan dit weerstaan om die eerste die beste kampeerder as dansmaat te gryp en bietjie straataf tussen die kinders en die fietse te skoffel nie.
Die trekklavier- en konsertinaspeler, Danie du Plessis - alom bekend as Doep - speel bykans enige musiekinstrument en as hy 'n klomp musikantvriende bymekaarbring, dan noem die mense hulle sommer gou-gou Doep se Groep.
Kyk 'n video hieronder:
Doep vertel die uitdrukking "Balke toe!", wat dikwels tydens boeremusiekdanse uitgeroep word as die musiek so lekker is dat jy eintlik 'n bietjie seer kry, kom oorspronklik van die ou dae se boeredanse wat in enige beskikbare gebou of kamer gehou is. Die stowwerige kleivloer is met tussenposes met water besprinkel en dan is daar geroep "Balke toe!" Die dansers moes blitsig die vloer ontruim en het sommer letterlik aan die balke gehang!
Boeremusiek word deesdae maar min op radio gehoor en hoofsaaklik in nisprogramme soos RSG se Saterdagmiddagprogram, Vastrap gespeel.
Wyle Ollie Viljoen se seun, Willem bied die program aan van 14:00 tot 15:00 en is lief om te sê: "Boeremusiek is hartsmusiek."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'