GEORGE NUUS - Die nagedagtenis van wyle Andy Lamont gaan voortleef in 'n toekenning wat jaarliks deur die George Erfenistrust gemaak gaan word.
Die trust het tydens 'n onlangse vergadering in beginsel besluit om jaarliks so 'n toekenning te maak uit erkenning vir sy sinvolle bydrae tot bewaring. Meer besonderhede sal later bekendgemaak word.
Dit sal waarskynlik toegeken word aan mense of instansies wat besondere bydraes gelewer het tot erfenisbewaring.
Lamont was tot met sy dood voorsitter van die George Erfenistrust. Hy was 'n man wat diep spore in die gemeenskapslewe en politiek van George en die Tuinroete getrap het. Lamont was in die verlede onder meer burgemeester van die destydse Eden-distriksmunisipaliteit en 'n baie bekende gemeenskapsleier.
Die 71-jarige Lamont is einde Januarie in 'n hospitaal in George oorlede na 'n kort siekbed. Hy het kanker gehad.
Joh Groenewald, 'n lid van die George Erfenistrust se bestuur, het die besluit verwelkom. Hy het Lamont goed geken.
Volgens Groenewald het Lamont bydraes gelewer op talle lewensterreine. Dit sluit in die onderwys - provinsiaal en nasionaal. As 'n inwoner van Pacaltsdorp was hy ook betrokke by restourasiewerk in die gebied. Hy het sommige daarvan op eie onkoste gedoen.
Tydens die 2010 Wêreldbekersokker het hy ook 'n rol gespeel. Van die internasionale sokkerspanne het die Tuinroete as hul tuisbasis gebruik en hy het 'n rol in die reëlings gespeel.
"Andy het 'n groot bydrae tot bewaring gelewer en die toekenning is uit erkenning vir sy sinvolle bydrae tot restourasiewerk," het Groenewald gesê.
Tydens die vergadering is die moontlikheid ook geopper dat sogenaamde "bewaringswyke" in George gevestig kan word. As dit plaasvind, kan dit op dieselfde basis funksioneer soos die Bo-Kaap in Kaapstad. Dit is vir gebiede wat bewaringsensitief is en die doel sal wees om die unieke karakter van die gebiede te behou.
Verdere gesprekke sal met belanghebbendes plaasvind.
Lees 'n verwante artikel: Bekende leier oorlede
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'