Update
GEORGE NUUS - Die begrafnis van Andy Lamont, 'n man wat diep spore in die gemeenskapslewe en politiek van George en die Tuinroete getrap het, vind Saterdag plaas. 'n Troosdiens word vanaand, Donderdagaand, vir hom gehou.
Lamont was in die verlede onder meer burgemeester van die destydse Eden-distriksmunisipaliteit en 'n baie bekende gemeenskapsleier.
Die 71-jarige Lamont is verlede Donderdag in 'n hospitaal in George oorlede na 'n kort siekbed. Hy het kanker gehad.
Hy word oorleef deur sy eggenoot Wilma, drie dogters, Lauren, Margaux en Amanda en vyf kleinkinders. Hy het ook drie susters. Margaux woon in Noorweë en Amanda in Duitsland.
'n Troosdiens word vanaand om 19:00 gehou en 'n begrafnisdiens Saterdag, stiptelik om 09:00, albei by die United Congregational Church in Pacaltsdorp. Belangstellendes word gevra om van 08:30 hul sitplekke in te neem. Lamont sal later tydens 'n privaat geleentheid veras word.
Sedert die nuus oor sy afsterwe bekend geword het, is die familie oorval met boodskappe van medelye. Sy oudste dogter, Lauren, het aan die George Herald gesê mense is welkom om beide geleenthede by te woon. Sy sê hy was 'n besorgde eggenoot, pa en oupa. Hy was baie erg oor sy kleinkinders.
"Alles wat hy gedoen het, het hy met ons in gedagte gedoen."
Wilma sê haar man was 'n vreedsame mens en het sterk geloof gehad. Ofskoon hy 'n openbare figuur was, het hy sy gesin beskerm teen die moeilike deel van 'n lewe in die openbare oog.
Margaux onthou haar pa as 'n gewillige raadgewer. Selfs toe hulle al volwassenes was, wou hy nog steeds help. "Wanneer ons getwyfel het, het ons hom altyd gekontak. Hy het advies uit liefde vir ons gegee. Ons was baie geseënd om hom as ons pa te hê." Volgens haar was hy 'n familieman en baie lief vir die see.
Andy Lamont toe hy burgemeester van Pacaltsdorp was.
Amanda sê onderwys was baie belangrik vir haar pa. "My pa was my rolmodel. Hy het 'n groot impak gehad op mense se lewens oor 'n lang tydperk en op verskeie generasies." Voorts was hy 'n goeie luisteraar en iemand wat graag grappies gedeel het.
Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het gesê hy het baie Lamont geleer. "Van die dinge wat ek nou toepas as burgemeester, het ek indirek by hom geleer. Dis dinge soos sy persoonlike vaardighede, soos byvoorbeeld om mense vriendelik en professioneel te behandel. Dis met hartseer dat ons van sy dood kennis geneem het."
Joh Groenewald het hom as vriend geken en saam met hom op die George Erfenistrust gedien. Lamont was vir 'n ruk voorsitter van die trust.
"Andy was 'n skeppende persoon en 'n goeie voorsitter. Hy het regtig gepoog om die erfenis van George te bewaar."
Volgens Groenewald was Lamont ook 'n merkwaardige persoon in 'n moeilike politieke tyd.
Doreen Martin-Jacobs het Lamont beskryf as 'n baie vriendelike persoon. Sy het Lamont meer as 50 jaar geken. "Hy het daarvan gehou om mense te leer ken." Hy het ook daarvan gehou om dinge vir die gemeenskap te doen en was baie lief vir Pacaltsdorp.
Andy Lamont verlede jaar in November saam met twee vriende, Glynis Kuscus (links) en Doreen Martrin-Jacobs. Foto: Eugene Gunning
Andy Lamont (71), well-know resident of George, died last week after a short illness. Lamont had cancer. He was a former mayor of the Eden District Municipality and a prominent community leader. Lamont is survived b his wife, Wilma, three daughters, five grandchildren and three sisters. A funeral service will take place at 09:00 sharp on Saturday at the United Congregational Church in Pacaltsdorp. People who would like to attend are asked to arrive from 08:30.
Lees 'n vorige artikel: Andy Lamont oorlede
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'