GEORGE NUUS - Die ANC het met 'n striemende aanval gereageer na Wessie van der Westhuizen, Eden-distriksraad se uitvoerende burgemeester, se perskonferensie oor die regerende DA/ACDP/Cope-koalisie se prestasies.
Tydens verlede Maandag se perskonferensie het Van der Westhuizen verskeie dwarsklappe na die ANC gegee en beweer sedert 30 Junie 2011 moes die regerende party net kaiings uit die vuur krap om die distriksmunisipaliteit van bankrotskap te red. Amptenary wat as voetsoldate vir die ANC opgetree het en misbruik van munisipale fondse was onder die gewraakte bewerings teen die ANC.
Toe volg 'n herhaling van verkiesingsbeloftes om die DA en sy bondgenote se pad vorentoe uit te stip. Toerisme moet blom, planne om fondse te genereer vir beter dienslewering, landelike ontwikkeling, 'n beter benadering tot die MIV/Vigs-probleem, intensiewe fokus op die misdaadprobleem, werkskepping vir die jeug, vroeë kind ontwikkeling en gefokuste en lojale amptenare was op die regerende koalisie se spyskaart.
Piet van der Hoven, hoofsweep van die distriksraad se ANC het Donderdag aan die George Herald gesê hy koop nie hierdie beloftes nie. "Natuurlik sal amptenare lojaal wees as hulle weet hulle gaan afgedank word indien hulle nie die DA ondersteun nie. Die amptenare leef in vrees binne die gebou (die Eden-distriksmunisipaliteit). Die DA is besig met kader-ontplooiing en as jy nie hulle beginsels onderskryf nie sal jy afgedank word," was Van der Hoven se mening.
In antwoord op die DA se planne rondom vroeë kind ontwikkeling het Van der Hoven gesê 'n paar klein finansiële donasies aan voorskoolse sentrums is nie die antwoord op die probleem nie. "Daar moet 'n plan in plek wees en die ANC het so 'n plan in plek gehad." Hy was ook van mening dat die DA nie genoeg doen ten opsigte van landelike ontwikkeling nie. "Hulle het geen passie vir landelike ontwikkeling en armoedeverligting nie."
Van der Westhuizen het die afgelope Dinsdag in antwoord op Van der Hoven en die ANC se verbale aanval gesê: ""Dit is baie interessant dat die ANC nou alles in hul vermoë doen om die enorme skade wat gedoen is in Eden te probeer verdoesel met leuens en strategiese aanvalle op die DA. Plaaslike munisipaliteite bloei na die strooptogte uit munisipale koffers vir politieke gewin deur die ANC. Geld wat bedoel was om uiterste armoede in Eden te beveg, die lewens van plaaswerkers te verbeter en om volhoubare werke te skep is met ompaaie terug na ANC koffers."
Ten opsigte van die oorname van die Eden-distriksraad deur die DA/Cope/ACDP-koalisie het Van der Westhuizen volgehou dat 'n bankrot boedel geërf is en buitengewone stappe geneem moes word om die munisipaliteit te red.
"Met die oorname deur die DA is 'n uiters verdeelde personeelkorps gevind. Dié wat ANC-lojaliste was is aangenaam bevorder tot hoër poste of is omstrede aangestel solank hulle net die politieke agenda van die ANC gedryf het. Dié wat bloot hul werk wou doen se lewens is daagliks versuur. Die nuwe regering het niemand afgedank of weggejaag nie. Ons het hulle tot verantwoording geroep oor die duisende rande wat uit die munisipaliteit gestroom het."
Oor van der Hoven se beskuldigings dat die DA nie genoeg doen vir voorskoolse ontwikkeling nie is die ANC as volg afgejak: "Dit is jammer dat byna R1 miljoen aan 'n kleuterskool in Dysselsdorp bestee is bloot om politieke punte voor die verkiesing te wen. Daardie miljoene kon tussen tien kleuterskole verdeel word om meer kinders se lewens te verander."
Oor die ANC se landelike ontwikkeling het Van der Westhuizen gesê hy sal graag wil sien wat hulle ten opsigte van landelike ontwikkeling gedoen het behalwe om watertenks en toilette vir stemwerwing uit te deel.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS