Dit was gister die boodskap van mnr. Robin Carlisle, minister van vervoer en openbare werke, by die opening van die nuwe alkoholtoetssentrum in George.
Die R1 miljoen-sentrum, geborg deur Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB), sal motorbestuurders vir dronkbestuur toets sonder dat bloedtoetse nodig is.
Dit is die tweede alkoholtoetssentrum in die Wes-Kaap. Die ander sentrum is in Athlone in die Kaap.
Motoriste wat te veel gedrink het, sal op die toneel ‘n alkohol-asemtoets ondergaan en as die toets toon dat hulle alkohol gebruik het, sal hulle na die naaste polisiekantoor geneem word.
Daarna word hulle na die alkolholtoetssentrum geneem vir die dräger-alkoholtoets. Dié asemtoets se uitslag is onmiddellik bekend en sal na verwagting die wagtyd vir vervolgings aansienlik verkort.
Die masjien reik ‘n paar kopieë van die lesing uit waarvoor die vermeende dronkbestuurders moet teken. Die bestuurder sal een kry, een gaan na die polisie, een na die beampte wat die dräger-masjien beman, en nog een word in die dossier geliasseer.
Diegene wat glad nie in ‘n toestand is om te blaas nie, se bloed sal deur ‘n verpleegster by die sentrum getrek word.
Daar is ook CCTV-kameras regdeur die moderne en netjiese gebou wat in die hof as omstandigheidsgetuienis sal dien.
Dr. Vincent Maphai, SAB se direkteur van korporatiewe dienste, het in sy toespraak gesê dit gaan daaroor om mense op te voed oor die verantwoordelike gebruik van alkohol.
Mnr. Vincent Fritz, die provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid, was ook by die opening en het sy departement se steun aan die projek beloof.
Geldigheid van toets
Volgens Carlisle sit ‘n volbank regters op 3 Maart volgende jaar in die Kaapse Hooggeregshof oor die geldigheid van die dräger-toets, hoewel dit reeds tans in die hof as bewysstuk toegelaat word. Dit sal tot gevolg hê dat dronkbestuurders spoedig gevonnis word.
Volgens Carlisle het Kapenaars al begin om gehoor te gee aan die boodskap van ‘geen drink en bestuur’. In die boekjaar Maart 2009/April 2010 het dronkbestuur afgeneem met 11%.
’n Derde alkoholtoetssentrum sal na verwagting in Maart aanstaande jaar in Worcester open.
Die sentrum in George is die 12de sentrum wat geborg word deur SAB Miller.
.jpg)
By die sentrum is daar ‘n kamer wat deur verpleegsters van die departement van gesondheid beman sal word vir gevalle waar die trek van bloed nodig sal wees. Mnr. Quinton Williams (sentrumbestuurder) verduidelik hoe die bloedmonsters verpak sal word.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIZETTE DA SILVA