Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die seerkry van die spot wat hy sy lewe lank al verduur weens sy albinovel het Mashiano Ruiters (19) nie ondergekry nie. Hy leef sy lewe voluit en sien vir homself 'n goeie toekoms, maar dis nie te sê dat hartelose woorde wat teen hom gemik is, net oor sy kop waai nie.
Mense wat hom aanstaar en hulle genadelose woorde betrap hom steeds onverhoeds. Dis deel van albino-wees.
"Oral waar ek kom, is daar kinders wat aanmerkings maak. Hulle kyk net anders na jou. Maar ek gaan nie dat ander mense my afdruk nie. Eintlik het ek daardeur net 'n sterker mens geword. Ek het verlede jaar matriek gemaak en het 'n toekoms wat op my wag."
Weens sy swak sig, was Mashiano as kleuter twee jaar by die Athlone Skool vir Blindes. Hy is later na Heidedal Primêr en toe vir twee jaar in Carpe Diem voordat hy na Hoërskool George is waar hy verlede jaar gematrikuleer het. Hy het onlangs begin werk as 'n toerismeveiligheids-monitor by SANParke en is baie gelukkig dat sy werksomgewing die lieflike Ebb en Flow is. Hy is mal oor die buitelug en geniet die fisiese aard van sy werk.
Mashiano se ma, Jolene, 'n nutsman by die George Elektrotegniese Departement, het van jongs af probeer om selfvertroue by hom te kweek. "Ek het hom altyd geleer om vir kinders wat hom spot te sê, 'Ek is uniek, net soos wat God jou uniek gemaak het'. Hy het al vir my gesê dit het hom sterker gemaak."
Kyk 'n video hieronder:
Skelwoord
Sy beleef die pyn van die spottery asof dit teen haarself gemik is. 'Albino' is 'n skelwoord in party mense se mond, soos 'n werknemer by 'n winkel waar Mashiano vakansiewerk gedoen het wat hom uitgevloek het as 'n *&^% albino, vertel sy.
"Hy kon homself natuurlik nie sover kry om die volgende dag terug te gaan werk toe nie. Het albino's dan nie 'n plek in die samelewing nie? Lyk my hulle moet wegkruip. Hoekom hulle nie net aanvaar soos hulle is nie?" vra sy met trane in haar oë.
Haar ma-hart het dieselfde meelewing met ander albino's. Daarom reik sy uit na hulle - sy maak kennis en deel dan 'n paar bemoedigende woorde. Dit was juis die magteloosheid wat sy ervaar het ná 'n onlangse voorval waar 'n 20-jarige albino van Rosemoor weer die teiken van venynige spot was wat haar laat besluit het om die media te nader. "Die outjie wil nie eers uit die huis kom nie oor die verkleinering. Daar word klippe op hul huis se dak gegooi. Dit is net te veel om te verduur. Ons moet iets doen."
Ma Jolene en Mashiano in ligte luim.
Sy glo deur bewusmaking van albinisme en uitreiking na ander albino's deur 'n ondersteuningsgroep, kan hulle 'n begin maak om verandering in die publiek se houding teweeg te bring en albino's help om voller en gelukkiger lewens te lei. Sy is selfs bereid om by skole praatjies te hou. "Dit gaan oor respek vir ander en dit word tuis gekweek deur ouers en by die skool," meen sy.
'Mense mens'
Jolene sê Mashiano is 'n ware "mense mens" en 'n vreugde in die huis. "Hy is standvastig. Hy is my ster."
Hy ry al perd vandat hy ses jaar oud is en het al sy eie perd, Saffira, aangeskaf. Selfs 'n ernstige val verlede jaar, twee dae voor sy eindeksamen begin het, het hom nie afgeskrik van perdry nie. Hy is na dese sonder voortande. "Maar hoor is min," lag hy. "Ek klim maar weer op."
Mashiano op Saffira.
Een van die fisiese uitdagings waarmee albino's sukkel, is swak sig. Die dokters het gesê Mashiano sal op 14 jaar totaal blind wees, maar vandag het hy steeds 10% sig en kom hy oor die weg danksy 'n baie sterk bril. "Albino's moet ook baie versigtig wees in die son weens ons ligte velle so ek gebruik baie sonskerm."
Mashiano se boodskap aan ander albino's is, "Ignoreer die aanmerkings en gaan aan met jou lewe. Moenie dat ander jou aandag aftrek van dit waarmee jy besig is en jou toekoms in die wiele ry nie. Kyk vorentoe, wees sterk en hou uit."
Mense wat belangstel in 'n moontlike ondersteuningsgroep, kan Jolene kontak by 072 913 1736.
n Albinisme word veroorsaak deur die afwesigheid van die geen wat melanienvervaardiging in die liggaam bepaal. Melanien is die pigment wat die vel teen die ultravioletstrale van die son beskerm. Albinisme kan beperk wees tot die oë, of dit kan die vel en die oë affekteer.
Mashiano en sy oupa, Abie Heydenrycht.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'