TUINROETE | KAROO NUUS - Twee Suid-Afrikaanse veteraan-aktrises, Marian Hoöman en Zolie Markey, is deesdae hard aan die werk agter die skerms om 'n opwindende werklikheidsreeks vir die Afrikaanse televisiekanaal, Via TV/Media 24 te skep.
Marian, wat sedert die 70's haar merk gemaak het in die film- en TV-wêreld, se mees onlangse rol was Kotie in die sepie 7de Laan. Sy en haar man, James het meer as 'n dekade gelede na die Tuinroete getrek.
Sy het met George Herald gesels ná 'n besoek aan Kanada waar sy vir haar kunstenaarsdogter, Amanta Christina, en haar twee kleindogters gaan kuier het.
Sy is baie opgewonde oor die verfilming van Ons bring dit vir jou, soos hul werklikheidsreeks gedoop is. Verfilming het 'n maand gelede begin.
Dit neem kykers op reis saam met ses vragmotorbestuurders op ver paaie deur die land. Een van hulle is 'n vrou.
"Ons wil graag vir die publiek 'n kykie gee in hoe hierdie mense hulle brood en botter verdien met dae aaneen op die pad en watter praktiese uitdagings daar is met alledaagse goed soos kook en was, en ook die gevare langs die pad. Ons besoek ook hulle gesinne om te hoor hoe dit hulle raak," sê Marian.
Zolie en Marian het reeds planne vir nog 'n realiteitsreeks, Kies jou kelner wat hulle graag in 'n restaurant in George wil verfilm, maar hulle soek nog 'n restaurant wat hulle plek sal beskikbaarstel.
Kelners kan inskryf om deel te neem en word dan beoordeel op die diens wat hulle lewer. Die 'klante' is 'n restaurant vol beoordelaars. In hierdie proses leer die kelners en die kyker.
"Die idee is gebore na aanleiding van die substandaard diens wat 'n mens oor die algemeen in Suid-Afrikaanse restaurante kry vergeleke met diens in oorsese restaurante.
"Dit is baie keer 'n geval van onvoldoende opleiding. Ons hoop om met die reeks die aandag daarop te fokus. Ek is baie opgewonde daaroor."
Marian en Zolie is op die oomblik op soek na borge vir die twee programme.
Marian tydens haar onderhoud met George Herald.
Foto: Alida de Beer
Benewens hierdie twee projekte, het Marian, 'n opgeleide toergids, ook planne om toere aan te bied tussen die Tuinroete en Kaapstad.
"Wanneer ek ontspan, skryf ek kinderverhale en ek wil graag ook 'n boek met stories oor pensioen skryf. Die impak van aftree, finansieel en emosioneel, en met 'n sin vir humor vir uitdagings vir 'n nuwe bladsy," sê sy.
In die Covid-pandemie het sy 'n boekie vir kinders geskryf, Germi de Covi, om hulle te leer wat Covid is.
Marian het 'n graad in drama en het onder meer drama-opleiding aangebied en ook internasionaal as geleentheidsorganiseerder gewerk.
Haar CV sluit radiowerk en verskeie filmrolle in. Sy het die rol van Sandra van de Merwe [sic] vertolk in die film District 9 (2009) wat vier Academy Award-nominasies ontvang het en het ook verskyn in Forsaken (2019) en Orkney Snork Nie (die film).
Op die verhoog het sy rolle gehad in stukke soos Piet en die Passion Flower; Ek, Anna van Wyk; Equus; en Hartlam, is dit jy?.
Marian het haarself verder bekwaam deur kortkursusse in regie, skryfkuns, praktiese drama, verhoogproduksie, en gespesialiseerde privaat onderrig.
Sy het selfs 'n afslaersdiploma en het al verskeie veilings gedoen.
Haar twee dogters is ook kreatiewe, talentvolle vroue. Albei het aan die National School of Arts in Johannesburg studeer en werk nou as kunstenaars, Amanta in Kanada en Ulona in Kaapstad, waar sy met haar seuntjie woon.
Marian Hoöman op die stel van Ons bring dit vir jou saam met fotografieregisseur Deon Louw, kameraman Grant Danre, vervaardiger Zolie Markey en klankregisseur Brad du Preez.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’