TUINROETE NUUS - Die Covid-19-taakspan, wat uit AfriForum, Saai en Solidariteit Helpende Hand bestaan, het op 27 en 28 Mei ’n ton Genesis-kitsmaaltye na dorpe in die Suid-Kaap wat Albertinia, Riversdal, Stilbaai, Mosselbaai, George en Oudtshoorn insluit versprei.
AfriForum se buurt- en plaaswagstrukture het ook gehelp om doeltreffende en vinnige verspreiding te verseker.
Die skenking is moontlik gemaak danksy Laeveld Agrochem wat hierdie kitsmaaltye aan die taakspan gegee het.
“Die Genesis-kitsmaaltye bevat die 55 voedingstowwe, 12 vitamiene en vyf minerale wat deel van die daaglikse voedingsvereistes uitmaak. Vyftig gram daarvan met 200 ml water is gelykstaande aan ’n volledige ete. Die voedingstowwe word ook stadig vrygestel sodat mense vir langer versadig voel,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
“Met die stigting van die Covid-19-taakspan kan ons met ons gevestigde strukture en uitstekende vermoë verseker dat die voedsel die kwesbaarste mense bereik,” sê David Olivier, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir die suidstreek.
Om by AfriForum se George-, Mosselbaai-, Hessekwa- of Oudtshoorn-takke betrokke te raak, SMS die naam van die tak van jou keuse na 45342 (R1).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'