GEORGE NUUS - AfriForum se George-tak en AfriForum Jeug, vergesel van plaaslike omgewings-praktisyn Desireé du Preez, het die George-stortingsterrein op Woensdag 22 Februarie besoek om 'n oudit te doen van hoe die stad se vullis hanteer word.
Dié burgerregte-organisasie verskaf jaarliks 'n stortingsterreinouditverslag van verskeie munisipaliteite aan die nasionale departement van bosbou, visserye en die omgewing. Oudits word slegs gedoen in gebiede waar AfriForum-takke bestaan.
Eduan Naudé, George-takvoorsitter, sê hulle is gelukkig om die hulp van 'n plaaslike kundige te hê wat die ouditverslag doen.
AfriForum het die wetlike vereistes waaraan stortingsterreine moet voldoen, in 33 vrae verwerk, wat hulle gebruik om te bepaal of 'n terrein aan die minimumstandaarde voldoen. Twee lede van AfriForum Jeug, Jana Naudé en Liandri Groenewald, het gehelp om die vraelys deur te werk met Wessel Robertson, hoof van reinigingsdienste by die George-munisipaliteit.
Robertson het onder meer inligting verskaf oor die komposteringsfasiliteit wat tans in aanbou is en wat teen Julie 2024 voltooi behoort te wees. Dit is 'n alternatief vir die stortingsterrein wat binne die volgende 18 maande uit diens gestel moet word sodat rehabilitasie kan begin.
Rehabilitasie sal na verwagting langer as vyf jaar duur. Die installering van 'n stormwaterdreineringstelsel en omheining van die perseel sal deel vorm van die rehabilitasieproses.
Volgens Robertson word slegs ongeveer 25% van vullis tans herwin. Dit is grootliks die meer gegoede gebiede wat daaraan deelneem, maar die munisipaliteit doen deurentyd bewusmaking en opvoeding in ander areas om mense aan te moedig om te herwin.
Afval wat nie herwin word nie, word nog tot einde 2023 na die streekstortingsterrein by PetroSA vervoer. Werk aan die eerste sel van die nuwe streekterrein langs PetroSA begin vandeesmaand.
Die uitslae van toetse op vyf boorgate waar grondwater in die stortingsterrein se omgewing jaarliks getoets word, is ook bespreek. Dit toon dat daar 'n soliede rotslaag in die geologie is wat veroorsaak dat die indringing van besoedeling in die grondwater baie laag is.
Karin Stoffels (regs), projekkoördineerder van straatreiniging, beantwoord vrae van Riandri Groenewald (links) en Jana Naudè van AfriForum Jeug.
Eduan Naudè (regs), voorsitter van AfriForum se George-tak, Desireé du Preez (naasregs) van Greenfire Enviro en Celeste van Rensburg (wat haar internskap by Greenfire Enviro doen) gesels met Wessel Robertson, hoof van reiniging by George-munisipaliteit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'