GEORGE NUUS - 'n Advertensie in die George Herald se gratis susterskoerant Idinga op Vrydag 28 Julie wat verband hou met die opgradering van die Nelson Mandela-boulevard, het gelei tot 'n mosie wat deur AIC-raadslid Abel Kiwit, ter tafel gelê is.
In 'n gesprek, voor die mosie vir bespreking oop was, het die DA-hoofsweep Mxolisi Nyakati, gesê die burgemeester het die advertensie reeds onttrek.
Luidens die advertensie word slegs inwoners en kontrakteurs van Thembalethu uitgenooi om te registreer vir 'n werksgeleentheid vir die duur van die projek.
"Kontrakteurs en werksoekers van die ganse stad, met voorkeur aan voorheen benadeelde inwoners, moet ook by die advertensie ingesluit word," het Kiwit gesê. "Die raad het nooit besluit om inwoners van Thembalethu voorkeur te gee nie."
Ofskoon die advertensie onttrek is, reken Kiwit die skade is klaar gedoen.
Sac-raadslid Basil Petrus, het gesê die plasing van so 'n advertensie is totaal onverantwoordelik. "Die beleid van die raad is dat almal gelyke geleenthede moet kry, en dit is ook die Sac se standpunt."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'