Video
GEORGE NUUS - Die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging, oftewel die ACVV, het gisteraand, 11 Oktober op hartroerende wyse ‘n volle eeu van diens aan die George-gemeenskap in die stadsaal gevier. Sangers Jak de Priester en George se eie Michael Lindt het beide die rolle van seremoniemeester en vermaaklikheidskunstenaar met gevoel asook ‘n tikkie humor vervul.
Die saal was volgepak met gaste wat hulle waardering vir die begeesterde vroue kom betoon het en Burgemeester Melvin Naik en ander raadslede was ook daar om die ACVV te eer. Die burgemeester se kantoor het die spyseniering geborg en Mercia Draghoender, portefeuljeraadslid van gemeenskapsontwikkeling, het as koordineerder opgetree.
ACVV George se voorsitter Rina de Swardt het die lede wat so onbaatsugtig die lot van veral kinders in George verbeter bedank. De Swardt self is al langer as 30 jaar betrokke by die plaaslike tak van die ACVV en dien ook op die welsynsorganisasie se nasionale bestuur.
Die kersie op die verjaarsdagkoek
Die aand se verrigtinge het op ‘n hoë noot geëindig toe die sowat 50 personeel en vrywilligers die aangrypende lied, The Rose, wat deur Bette Midler bekend gemaak is, as ‘n koor saam gesing het.
As die dames eendag hulle werk by die ACVV opgee (Vader behoed ons!), kan hulle gemaklik naam maak vir hulself as ‘n koor van formaat. Lees die volledige storie en sien nog foto’s van die verjaarsdagvieringe volgende week in die George Herald.
George-burgemeester Melvin Naik en sy vrou Edwina (regs) het ‘n sertifikaat van waardering aan ACVV George se voorsitter, Rina de Swardt oorhandig. Foto: Pauline Lourens.
Kyk video hieronder.
• ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD, GROUP EDITOR-AT-LARGE
• FOTO'S & VIDEO: WESSEL VAN HEERRDEN
• FOTO'S: PAULINE LOURENS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'