GEORGE NUUS - Die twee vroue van Beaufort-Wes, Anelize van Vuuren (48) en Amelia de Klerk (31) wat 'n bordeel uit Heatherlands in George bedryf het, het Dinsdag 22 Augustus in die George-landdroshof skuldig gepleit.
Van Vuuren, wat die bordeel bedryf en bestuur het, het skuldig gepleit op die leef en opbrengs van prostitusie.
Landdros Erna Grobler het haar 'n boete van R6 000 opgelê of een jaar tronkstraf, asook twee jaar tronkstraf opgeskort vir vyf jaar. Sy mag verder geen bordeel bedryf of enige inkomste deur prostitusie verdien nie.
De Klerk, wat as sekswerker by die bordeel in Hillwoodstraat gewerk het, is ook R6 000 beboet of drie jaar tronkstraf opgelê.
Die twee vroue is in November 2016 in hegtenis geneem nadat die polisie hulle tydens 'n bedekte operasie (sting) vasgetrek het.
Van Vuuren erken in haar pleitverduideliking dat sy die huis in Heatherlands gehuur het met die doel om 'n bordeel te bedryf.
In haar pleitverduideliking sê De Klerk sy het uit vrye wil as sekswerker by Abbey's Cats gewerk en was ten volle daarvan bewus dat dit 'n kriminele oortreding is.
Versagtende omstandighede wat 'n rol in die vroue se vonnisse gespeel het, sluit in dat hulle vir 'n maand na hul arrestasie (3 November tot 28 November) in aanhouding was voordat hul op borgtog vrygelaat is. Hulle berou getoon het deur skuldig te pleit en nie die hof se tyd gemors het nie. Alle onwettige bedrywighede by die bordeel is na hul vrylating gestaak.
Anelize van Vuuren (48).
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'