GEORGE NUUS - As wyle Ronald Kennith 'Sunshine' Scholtz nog geleef het, sou hy baie trots gewees het op sy dogter, Tanya Scholtz.
Ronald het op sy dag self diep spore in SWD en Suid-Afrikaanse rugby getrap. Tanya is ingesluit in die Springbok-vrouerugbyspan wat aanstaande maand in Europa gaan toer. Die span vertrek Sondag 31 Oktober na die buiteland en gaan in Frankryk, Wallis en Engeland speel.
Scholtz woon op die oomblik op Guernsey-eiland waar sy as 'n geoktrooieerde rekenmeester werk. Sy sal tydens die Springbokke se besoek aan Engeland by die span aansluit. Sy het voorheen 'n oefenkamp in Suid-Afrika bygewoon.
Scholtz het op Maandag 18 Oktober aan George Herald gesê sy het in George grootgeword en was 'n leerling aan Laerskool Outeniqua en later jare York High. Tot op 18-jarige ouderdom het sy hier gewoon en toe aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Haar ma, Bernadette (Bernie) en haar familie woon nog steeds hier.
Tanya Scholtz, lid van die Springbok-vrouerugbyspan wat aanstaande maand in Europa gaan toer.
Ywerige sportvrou
Sy het in 2014 rugby in Guernsey begin speel. Tot voor daardie tyd was sy hoofsaaklik gefokus om netbal te speel. Sy het onder meer in haar matriekjaar vir SWD gespeel.
Scholtz was nog altyd 'n baie ywerige sportvrou. As kind was sy ook betrokke by atletiek, hokkie en karate. Op die oomblik draf sy uit as agsteman (8) vir die vrouespan van die Guernsey Raiders. Dit is moontlik dat sy haker vir die Springbokke gaan speel.
Sy sien baie uit na die toer. "Ek is regtig opgewonde en voel geëerd om die geleentheid te kry. Ek hou van rugby. Dis my passie en enige rede om dit so gereeld moontlik te speel en my land te verteenwoordig, is 'n groot eer en ek is trots daarop."
Volgens haar het sy begin rugby speel omdat haar familie so lief is vir die spel. "Ek het ook rugby begin speel omdat my pa 'n ywerige rugbyspeler in sy gloriedae was en ek wou in sy voetspore volg."
Tanya Scholtz, lid van die Springbok-vrouerugbyspan wat aanstaande maand in Europa gaan toer. Haar ma, Bernadette sê Tanya het dieselfde styl, balvaardighede en spoed as haar pa.
Pa se voetspore
Bernadette het gesê Tanya se pa sou baie trots gewees het. Hy is in Julie 2018 oorlede. Tanya speel gewoonlik in die no.8-posisie. Dit is dieselfde posisie as haar pa.
"Ek is dankbaar dat sy in die span ingesluit is. Dis 'n droom van haar wat verwesenlik is. Ons as familie is baie trots op haar."
Volgens Bernadette het haar man in die verlede die Sport Legends-toekenning van die Wes-Kaapse departement kultuur en sport ontvang.
"Tanya het dieselfde styl, balvaardighede en spoed as haar pa."
Die Scholtz-familie 'n paar jaar gelede. Marisa Lamprecht (dogter), Kayla (dogter), Bernadette (ma), Ronald (pa), Tanya (dogter), Ronald Jr (seun) en Hylton (seun).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'