GEORGE NUUS - Haglik, bouvallig en septies. Só beskryf 'n bron die binnekant van die aanhoudingselle in die George-hof.
"Ja, mense is van mening dat kriminele so aangehou kan word, maar wat van die polisielede wat daar moet werk. Die enigste mense buiten die gevangenes en skoonmakers wat daar mag kom?
"Of dit 'n tronk is of nie, géén mens verdien om in sulke omstandighede aangehou te word óf daarin te werk nie." Volgens die bron, wat verkies om anoniem te bly, vrees werknemers wat daagliks hier moet werk vir hul lewens, veral sedert die uitbreking van Covid-19.
"Sedert die president se aankondiging Maandagaand is daar nog weinig voorsorgmaatreëls getref. Die gevangenes se hande word nie skoongemaak wanneer hulle by die aanhoudingselle aankom nie en daar is geen lugreëling nie.
"Die selle is te klein vir die hoeveelheid mense wat daar aangehou word, veral nou dat daar ten minste 'n afstand van 1,5 m tussen mense moet wees," sê die bron.
Al wat hulle vra is om onder meer higiëniese toestande te kan werk. "Hulle vrees dat hulle moontlik siektes na hul gesinne kan oordra. Justisie vat hul nie aan die hand nie en daar is nooit geld om die selle skoon en higiënies te kry nie."
Volgens die bron is nie een van die polisielede wat in hierdie omstandighede moet werk, gelukkig daarmee nie.
"Maar hulle móét die werk doen. Polisie mag mos nie weier nie. Dis nie regverdig teenoor hulle of hul gesinne nie. Die lugreëling werk nie en dit vrot na urine en rook," het die bron vandeesweek aan die George Herald vertel.
Teen druktyd Woensdagmiddag was daar nog geen reaksie op 'n navraag vir kommentaar aan die hofbestuurder, Lulama Dyani, nie. Daar was ook geen duidelikheid oor hoe die hof tydens die algehele inperking te werk sal gaan nie.
'n Toilet wat daagliks gebruik moet word aan die binnekant van die aanhoudingselle in die George-hof.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'