GEORGE NUUS - Mense het van vroegoggend af op Saterdag 28 Augustus by Mediclinic Geneva getou vir die kans om die Pfizer-inenting te ontvang as deel van die hospitaal se #Save1000-inisiatief wat vir die dag aangebied is.
Volgens Jeanita le Roux, verpleegdiens-bestuurder, het hulle nie hul mikpunt van 1 000 inentings gehaal nie, maar hulle is tevrede met die 800 wat wel gedoen is. "Ons is baie gelukkig met die opkoms en vir almal se positiewe gesindheid.
Al het ons nie ons aanvanklike doel van 1 000 gemaak het nie, is ons dankbaar vir elke immunisering en teenoor almal wat opgedaag het. Ons glo elke inenting het 'n impak op die pandemie."
Le Roux het gesê mense het al van 06:00 af begin opdaag en hulle het 'n halfuur vroeër, om 07:30, begin. Dit was heeldag tot 18:00 oop.
Die meeste mense het gedurende die oggend opgedaag en die toue was lank, maar lede van die publiek wat vir kommentaar genader is, het gesê die hele proses het ongeveer 'n uur geneem. Later in die dag was dit baie rustiger en kon mense binne minute gehelp word.
Karin en Sam Hewitt het gekom vir hulle tweede Pfizer-inenting.
Karin en Sam Hewitt was daar vir hulle tweede inenting. Hulle voel dat almal maar die inenting moet neem. "Hoe gouer ons almal ingeënt is, hoe gouer kan ons terugkeer na 'n normale lewe," het Sam gesê.
Tracy Stemmet van Toyota het gesê sy werk baie met die publiek en was bly om haar eerste dosis te ontvang.
Catherine Williams, wat baie bang is vir inspuitingnaalde, het gesê dit was uiteindelik vir haar 'n positiewe ervaring en glad nie seer nie. Die personeel se vriendelikheid en hulpvaardigheid het gehelp om haar te laat ontspan.
Magda du Toit doen Tracy Stemmet se inenting.
Geneva het tot en met die afgelope naweek in totaal meer as 15 400 mense ingeënt.
Le Roux het Edenfm, Ellie's Coffee, George Herald en Georgiete Staan Saam bedank vir hul ondersteuning om die dag moontlik te maak.
Catherine Williams en Pieter Sharp sit vir hulle 15 minute wagtyd na inenting.
Marieta Malgas wag in een van die rye. Sy het gesê sy is darem nie bang vir inspuitings nie. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'