GEORGE NUUS - Die George Herald het vroeg verlede jaar oor die lewenslustige 80-plussers Rein en Gerie Buisman berig wat 'n voorbeeld stel met hul omgewingsvriendelike leefwyse.
Toe hulle 'n ruk gelede nege sonpanele op die dak van hul huis in die Kraaibosch-landgoed aanbring, was hul seun verbaas dat hulle so 'n groot belegging maak in infrastruktuur wat 'n hele paar jaar van kragbesparing sal vat om die geldelike voordeel daaruit te trek. "Hy moes net lag toe ek vir hom sê dis glad nie te laat op my ouderdom nie, want ek gaan nog ouer as 'n honderd jaar word," sê Rein met 'n vonkel in die oog.
Die installasie het R142 000 gekos. "Ons gebruik daagliks 'n gemiddeld van 2kW van die munisipaliteit se toevoer so ons kragrekening is laag - so R100 tot R120 per maand. Wanneer die son skyn, trek die apparate wat ons in die huis aanskakel, soos die wasmasjien en skottelgoedwasser, direk van die panele af. Die twee geisers werk al lankal met sonkrag."
Die Buismans is natuurlik ingenome met hulself wanneer daar beurtkrag is, want die ligte en TV bly aan sonder om eens te flikker danksy die sonkragstelsel wat 'n kapasitor het om die opgewekte krag te berg. Hulle het van die begin af vir die installasie beplan toe hul huis drie en 'n half jaar gelede gebou is.
"Ons het versoek dat die nodige pype in die mure ingebou word, wat die bedrading vergemaklik het."
Die watertenks is netjies verberg. Teen die muur is 'n vlermuisboks wat Rein aangebring het om vlermuise te lok sodat hulle die insekte in toom kan hou.
Die egpaar gebruik ook nie munisipale water nie danksy vier watertenks en 'n pompstelsel wat die huis en tuin voorsien. Hulle tuin, waaruit hulle ook groente oes, is 'n lushof en by al die tuinwerk op sy eie werf, sien Rein nog kans om die 14 bome wat hy op die sypaadjies in die straat waar hy woon geplant het, ook te versorg.
Hy het ook die oorlog teen pampasgras in die vleigebiede in Kraaibosch gewen nadat hy omtrent 'n jaar gelede dié indringers op eie houtjie begin uitroei het - 'n moeisame en fisies veeleisende taak, maar dit het hierdie lewendige 81-jarige nie afgeskrik nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'