GEORGE NUUS - ‘n Ongeluk naby Heroldsbaai het vanmiddag die lewe van ‘n 5-jarige seuntjie geeis.
Die ongeluk het omstreeks 14:20 op die R404 plaasgevind, sowat 200m van die N2.
Blykbaar was die ma van die seuntjie, die bestuurder van die voertuig. Sy en die ander insittendes was glo op pad terug van Heroldsbaai na George na ‘n uitstappie by die see. Die voertuig, ‘n wit Polo, met ‘n CAW-registrasie, het van suid na noord gery.
Blykbaar het die een agterwiel losgekom en die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor. Dit het die voertuig van balans gegooi en dit het gerol. Die seuntjie is uit die voertuig geslinger. Volgens mense wat op die toneel was, is sy liggaam sowat 30 m gevind van waar die voertuig tot stilstand gekom het. Hy is op die toneel dood verklaar.
Benewens die ma en die seuntjie was daar ook twee ander insittendes. Die ma het ligte beserings opgedoen en haar arm is gebreek. ‘n Man wat ook in die voertuig was, is ernstig beseer en na ‘n plaaslike hospitaal geneem. ‘n Ander insittende is lig beseer.
Na verneem word het die oupa van die seuntjie later by die toneel opgedaag.
Nooddienste en die polisie het hulle na die toneel gehaas. ER24 was onder meer op die toneel.
Kort na die ongeluk is die pad in beide rigtings onbepaald vir verkeer gesluit. In ‘n stadium het verkeer in lang toue opgehoop.
Die pad is weer oop vir verkeer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'