GEORGE NUUS - Die 47-jarige Maxi (Teresa) Crowley, 'n boorling van Blanco, was haar lewe lank vasgevang in omstandighede waaruit dit bykans onmoontlik gelyk het om uit op te staan, maar dié ma van twee spog vandag met 'n graad agter haar naam, 'n goed besoldigde werk, en drome vir nog hoër hoogtes in haar oë.
As kinderoppasser en skoonmaker op die ouderdom van 40 met net 'n sinkhuisie vir 'n dak oor die kop, het Crowley besluit sy is vir meer in die wieg gelê, en sy het vir 'n graadkursus by Unisa ingeskryf.
Ten spyte van teenspoed en uitdagende omstandighede het sy deurgedruk en in 2015 haar graad verwerf.
Crowley het ná skool vroeg getrou en kinders gekry, maar in 2004 haar onstuimige huwelik beëindig.
Om te oorleef, het sy as kinderoppasser by 'n egpaar van Fancourt begin werk.
Toe hulle in 2009 wegtrek, het sy die kleintjie van 'n ma van Up with Downs Skool, Sharon Coetzer, opgepas. Crowley was egter rusteloos.
"Ek wou nie langer net babas oppas en skoonmaakwerk doen nie. Ek het bedank in die hoop om 'n assistentpos by 'n skool in Hermanus te kry, maar ek was te oud na hulle sin.
"Ek het teruggekom, werkloos, want Sharon het reeds iemand anders in diens geneem."
In dieselfde jaar kry sy egter 'n tydelike assistentpos vir 'n gr. R-klas by Holy Cross Primary en die volgende jaar 'n pos by Up with Downs.
Dis toe dat sy besluit om vir 'n B.Ed (Fondasiefase) by Unisa in te skryf. Deurnagte agter die boeke in haar sinkhuisie, baie keer by kerslig of met 'n flits, was haar voorland, want daar was nie altyd geld vir krag nie.
Sy het die sinkuis by die munisipaliteit gekry nadat haar houthut in daardie tyd omgewaai het. Sy moes ook die dood van twee steunpilare, haar pa en suster, verwerk. "Ek het baie op my knieë gehuil," vertel sy.
Maxi Crowley en haar broer, Gideon het rolle in die fliek, Fiela se Kind vertolk.
'Vasbyt en bid help'
Deur buite skoolure kinderoppasser te speel, kon sy ekstra geld verdien. "Ek het vroeër nooit kon dink ek sou dit regkry nie. Daar was nie eers finansies vir 'n behoorlike blyplek nie, wat nog te sê van studeer.
"Maar wanneer 'n mens 'n droom het en jy neem die eerste stap in geloof, stuur die Here mense en geleenthede oor jou pad wat jou vorentoe neem. Hy het 'n plan en laat als in plek val."
Haar eks-skoonouers, Alfred en Connie Cook het haar kursusgelde betaal. Boeke moes sy leen by 'n kollega by Up with Downs, Polly van der Merwe, en Alex Boorman, 'n buurvrou van haar voormalige werkgewers by Fancourt.
"Die biblioteek in Blanco het my ook baie gehelp. Ek kon op die internet gaan soek vir inligting. Sharon het my baie keer na die eksamenlokaal geneem wanneer dit eksamentyd was. Sy is vir my soos 'n ma, hoewel net twee jaar ouer as ek!"
Dit was 'n groot dag toe sy haar graad uiteindelik kon vashou. Kort ná sy graad gekry het, het sy 'n tydelike pos by Heidedal Primêr gekry, en vroeër vanjaar is sy permanent aangestel.
Reis na Israel
Met 'n behoorlike salaris huur sy nou 'n lekker blyplek en kon sy selfs haar droom bewaarheid om 'n toer in Israel mee te maak. Daar's drome vir nog baie reise vorentoe, en nog kwalifikasies.
"Ek wil graag sielkundige word en beoog om volgende jaar verder te studeer."
Crowley se vasberadenheid het twee vriendinne, Sorita Patel en Térèse Doshene, geïnspireer om ook te studeer en albei het pas hul finale eksamens voltooi. Sy is ook 'n inspirasie vir haar seuns, Almar (24) en Marcus (18), wat baie trots is op hulle ma.
n Crowley het 'n ook filmrol op haar kerfstok. Op 16-jarige ouderdom het sy die karakter Kitty Komotie in die rolprent, Fiela se Kind gespeel. Haar broer, Gideon, ook van George, het die rol van Kitty se broer, Dawid gespeel.
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'