GEORGE NUUS - Altesaam 38 geskenkte beeste se maalvleis, braaiwors, filet, kruisskyf, sopvleis asook varkwors en 16 skape se verpakte vleis word op Saterdag 5 Augustus by die 4 Brothers-aartappelstoor deur die NG Blanco-gemeente te koop aangebied.
Die vleisverkope is deel van die kerk se jaarlikse Vleismark en Minibasaar. Dit begin om 09:00. Daar sal ook kredietkaartfasiliteite beskikbaar wees. Droëwors, biltong en 'n plantestalletjie is hierdie jaar tot die aanbieding bygevoeg. Basaargangers kan ook uitsien om te smul aan worsbroodjies, koeke, beskuit, kleinkoekies, koeldrank, pannekoeke en kerrie-en-rys in die teetuin terwyl daar lekker op-en-wakker musiek gespeel word.
Nico van Rensburg, Johan van Greunen en Liz de la Bat het die massiewe taak op hul skouers geneem om weereens hierdie jaar se Vleismark en Minibasaar te reël. Almal in die gemeente is in rep en roer om dit 'n groot sukses te maak. Gemeentelede en vrywilligers het hierdie week self ingespring om al 38 uitgesoekte, geskenkte beeste se vleis te verwerk en verpak.
"Die vleis is soos in die verlede van uitstaande gehalte en ek verwag dat kopers van oral sal stroom om te kom koop," sê Nico van Rensburg. Vir meer inligting, kontak hom by 083 635 9907 of vir Johan van Greunen by 082 870 3477.