GEORGE NUUS - Die veiligheid van George-Suid se gemeenskap het ’n reusehupstoot gekry danksy ’n skenking van R50 000 deur die Wyk 28-komitee, onder voorsitterskap van rdl. Sean Snyman.
Hierdie bedrag is bewillig vir die aankoop en installering van sekuriteitskameras.
Die George South Neighbourhood Watch (GSNHW) het sy opregte dankbaarheid teenoor die wykskomitee uitgespreek vir hul optrede en belegging in die veiligheid van dié buurt.
Die GSNHW se voorsitter, Ronald Swart, het bevestig dat 11 kameras reeds geïnstalleer en aktief is, danksy die samewerking van ADT George.
Volgens Swart behoort die nuwe kameras as ’n afskrikmiddel vir misdadigers te dien, en ook tot beter misdaadvoorkoming te lei deur monitering van kritieke in- en uitgange. Vinniger reaksietye kan verwag word, en waardevolle bewyse van kriminele aktiwiteite sal ook aan wetstoepassers gelewer kan word.
Volgens Snyman was gemeenskapsveiligheid nog altyd een van sy prioriteite. Hy verwys onder meer na die omheining van die park in Newtonstraat en die beskikbaarstelling van tweerigtingradios voordat GSNHW gestig is.
“’n Gemeenskap kan slegs floreer as sy inwoners veilig voel,” sê Snyman.
Die wykskomitee het op hul beurt die buurtwag se vrywilligers bedank vir hul onbaatsugtige diens en deurlopende opofferings om die strate veilig te hou.
Snyman het ook genoem dat die verhouding met GSNHW versterk het met die gesamentlike doel om die buurt te beveilig.
In ’n tyd waar gemeenskapsveiligheid ongetwyfeld ’n kollektiewe verantwoordelikheid is, moedig die GSNHW inwoners aan om altyd waaksaam en paraat te wees, en dié organisasie se werksaamhede te ondersteun.
GSNHW bedank ook sy polisiesektorhoof, kapt. Lawrentius Zeelie, vir sy uitstekende diens en samewerking ten opsigte van misdaadvoorkoming in die omgewing.
Inwoners van George-Suid wat meer oor die buurtwag se bedrywighede wil weet, kan Swart by 082 785 9859 kontak.
Raadslid Sean Snyman, Ronald Swart (GSNHW voorsitter) en Eric Gouws (ADT). ‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’