GEORGE NUUS - Baie stemlokale was goed toegerus vir persone met gestremdhede. Ofskoon diesulkes 'n spesiale stem kon aanvra in die dae voor stemdag, het dit hulle vrygestaan om hul kruisie op stemdag te trek.
Dit was egter 'n groot teleurstelling vir Sanet Taljaard van Heatherlands toe sy Maandag by die stemlokaal by Hoërskool Heatherlands opdaag en ontdek dat die perseel nie rolstoelparkering het nie, en glad nie rolstoelvriendelik is nie.
"Ek moes vir lede van 'n party vra om met die beamptes te praat want ek kon nie by die beamptes uitkom nie.
"Ek is via die partylede ingelig dat die beamptes my nie sal kan help nie want hulle is te besig," het Taljaard gesê.
"Die partylede het my toe gehelp om met 'n groot gesukkel by die trappe op te kom. Toe ek klaar gestem het, was almal weg wat my gehelp het en het lede van die publiek wat gewag het om te stem, my weer by die trappe afgehelp. Die hele ervaring was ongelooflik sleg."
In die geval van 'n spesiale stem sou dieselfde lokaal gebruik word. Kiesers het ook 'n keuse om tuis te stem, maar moet bereid wees om die hele dag te wag vir 'n oproep, enkele minute voor die beamptes die woning bereik.
George Herald wag vir terugvoer van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) oor die voorval.
In Borcherds het Katriena Blignaut sonder veel moeite met haar rolstoel toegang tot die stemlokaal by Youth for Christ Kidstop bekom.
Viola Potts van Conville kon haar suster, Liezl Potts, met 'n lieflike oprit vir rolstoelgebruikers na Conville-gemeenskap-saal stoot om te gaan stem.
Susters Liezl (voor) en Viola Potts het gemaklik gaan stem by Conville-gemeenskapsaal. "Ons stem is ons geheim, maar ons stem dieselfde," het Viola gesê. Foto: Michelle Pienaar
Stacey-Lee Joseph, met serebrale gestremdheid, het sonder moeite vir die eerste keer haar stem uitgebring by die VGK in Pacaltsdorp. Ook sy is 'n rolstoelgebruiker.
Stacey-Lee Joseph (24), met serebrale gestremdheid, het vir die eerste keer haar stem uitgebring by die VGK in Pacaltsdorp saam met haar is haar ma, Shirleen, wat haar bygestaan het. Shirleen sê Stacey-Lee het voor 07:00 al na haar geroep en was opgewonde om haar kruisie te maak.Heel links staan die hoofverkiesings-beampte, Vena Fredericks. Foto: Lizette da Silva
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'