GEORGE NUUS - Inwoners van die Rosemoor-tehuis vir bejaardes het met groot afwagting uitgesien na die afgelope naweek, want hulle sou op hulle eie perseel kon stem, maar Saterdag en Sondag het gekom en gegaan sonder 'n teken van enige OVK-beamptes.
Teen Maandag-aand toe daar nog geen siel opgedaag het nie, het hulle alle hoop opgegee dat hulle deel sou wees van vanjaar se verkiesing.
Die voorsitter van die inwoners-vereniging, Johan Mundey, sê hulle is erg omgekrap oor verteenwoordigers van drie politieke partye, Good, die DA en die PBI, wat voorafbesoeke aan die tehuis gebring het waartydens inwoners onder 'n wanindruk gebring is dat hulle spesiale stemme sou kon uitbring.
Hulle het inwoners wat nie geregistreer was nie, gehelp om vorms in te vul. Inwoners is onder die indruk gebring dat reëlings vir spesiale stemming op die perseel getref sou word.
Dit was ongeveer 'n maand voor die verkiesing. "Saterdag-oggend was ons slaggereed. Ons het twee tafels in die sitkamer opgestel en al die mense wat wou stem, se ID's is in alfabetiese volgorde gesit om te sorg dat stemming vinnig en vlot kon verloop, maar ons het heel naweek vergeefs gewag."
Hy sê hy kon geen verteenwoordiger van die partye gedurende die naweek in die hande kry nie.
Trevor Davids, woordvoerder van die OVK, sê politieke partye mag nie namens kiesers aansoek doen vir spesiale stemming nie. "Individue moet self aansoek doen. In baie gevalle sal die bestuur van 'n tehuis hul inwoners help om aanlyn aansoek te doen, maar dit is steeds individuele aansoeke. 'n Tehuis kan nie as 'n geheel aansoek doen nie."
Die aansoeker se selfoonnommer word ook ingevoer wanneer aansoek gedoen word en die kieser ontvang direk terugvoer van die OVK oor of sy aansoek suksesvol was of nie. "Dit lyk of daar in hierdie geval nie aansoek gedoen is nie. Mense wat nie geregistreer is nie, sal nie kwalifiseer vir 'n spesiale stem nie."
Hy het gesê as daar genoeg inligting beskikbaar is oor die betrokke persone wat na bewering 'n wanindruk geskep het, kan klagtes by die OVK ingedien word teen die partye.
Virgill Gericke, partyleier van die PBI (Plaaslike Besorgde Inwoners), het by navraag gesê niemand in sy leiersgroep is bewus van so 'n situasie nie.
"Verskeie partye doen werwing daar. Ons lede is bewus daarvan dat registrasie slegs deur die OVK kan geskied en ek glo dit was moontlik 'n misverstand. As daar enige vorm van misleiding was, dan is dit heeltemal verkeerd. Dit sou in elk geval dom wees om die inwoners 'n ledevorm te laat invul as die mense nie eens geregistreer was nie."
Die DA en Good het teen saktyd nog nie op George Herald se navrae gereageer nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'