GEORGE NUUS - Carpe Diem Skool het met groot hartseer die afsterwe van Johan de la Rey, die eerste skoolhoof van die instelling, bevestig. Hy is op Vrydag 19 September oorlede, net drie maande ná sy 81ste verjaarsdag.
De la Rey was van 2000 tot 2008 aan die stuur van Carpe Diem, 'n skool vir leerders met spesiale behoeftes. Hy het hom onderskei as 'n leier wat nie net 'n skoolhoof was nie, maar ook 'n mentor en vriend vir personeel en leerders.
Hy was bekend vir sy warmte, humor, lewenslus en het 'n besondere nalatenskap agtergelaat.
In hul Facebook-inskrywing deel Carpe Diem allerlei staaltjies, sêgoed en gewoontes wat eie was aan hul eerste skoolhoof.
Sy kantoor was gevul met snuisterye wat stories vertel het, en hy het dikwels pouses saam met die kinders spandeer. Hy het selfs op sy Vespa-motorfiets so ver as Upington gery, en was bekend daarvoor dat hy kos aan behoeftige gesinne se diere geneem het.
Johan de la Rey het 'n besondere vermoë gehad om mense raak te sien en te waardeer.
Onder Johan de la Rey se leiding het die skoolgemeenskap gegroei.
Hy het fondsinsamelingsprojekte ondersteun, insluitend 'n fietstoer tot in Port Elizabeth, en personeel aangemoedig om saam bergfiets te ry. In sy latere jare het hy steeds uitdagings aangepak, van karate in sy sestigs tot daaglikse oefening in die gimnasium.
Joahn de la Rey was van 2000 tot 2008 aan die stuur van Carpe Diem.
Hy het 'n besondere vermoë gehad om mense raak te sien en te waardeer. Verjaarsdae van personeel is altyd onthou, selfs lank nadat hy die hoofpos verlaat het. Sy sêgoed en grappies - soos "Revona, my hele maand se pay is joune" en "Close the curtains, close the doors - nou hou ons huisvergadering" - het 'n blywende indruk gelaat.
Benewens sy liefde vir die lewe, was hy 'n man van diep geloof.
Die skool het sy innige meegevoel aan sy vrou Margaret, seun Friedl, en ander familie betoon.
"Ons Carpies sal altyd lief bly vir Meneer," lui die boodskap van die skool. "Hy laat 'n nalatenskap van warmte, humor, geloof, deernis en avontuur."
'n Lofdiens word Donderdag 2 Oktober om 10:30 by NGK Bergsig-gemeente gehou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’