Video
GEORGE NUUS - Lede van die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) het vanoggend glo onwettige kragkonneksies by plakkershutte van Moeggeploeg, ’n informele nedersetting in Seaview, afgebreek.
Die gemeenskap - en blykbaar baie minderjarige kinders - het hul ontevredenheid laat geld deur onder meer motorbande in die straat te brand.
Volgens een van die leiers van die area, vind ’n vergadering tussen verteenwoordigers van Moeggeploeg en George-munisipaliteit vanmiddag plaas. Navrae is aan George-munisipaliteit en die polisie gestuur, en terugvoer word afgewag.
Die inwoners van Moeggeploeg is redelik gefrustreerd met die gebrek aan elektrifisering in hul area. Heelwat inwoners is van mening dat daar ’n ooreenkoms met die munisipaliteit was dat hulle maar “so kan aangaan” totdat die area formeel geëlektrifiseer word. Hierdie is nog nie deur die owerheid bevestig nie.
Traangas en rubberkoeëls is vroeër vandag gebruik om die skare uit een te jaag. Beweringe dat lewendige ammunisie gebruik is, is onbevestig.
Verskafde video:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’