GEORGE NUUS - Die 13-jarige Jade Joy Swartzs, 'n gr. 7-leerder van Laerskool Outeniqua, het Saterdag 27 September die blye nuus ontvang dat sy gekies is as een van 50 finaliste vir Miss Universe Teen South Africa 2026. Dié kompetisie vind in Maart volgende jaar in Polokwane plaas.
Jade is tans saam met haar afrigter, die voormalige model Christolene Meas, hard besig met voorbereiding vir hierdie geleentheid.
Jade is een van twee tieners in die Wes-Kaap wat hierdie eer te beurt geval het. Die ander meisie, Lethabo Sekgobela, ook van die Suid-Kaap, is 'n boorling van Oudtshoorn. Volgens die organiseerder van die kompetisie, Nontombi Gumede, is Jade se nuwe titelskouerband in die pos. Sy kan dus binnekort haar semifinalistitel verruil vir die een van finalis.
Liefde vir mense
Wat Jade besonder maak, is nie net haar deelname aan 'n nasionale kompetisie nie, maar haar diepgewortelde liefde vir mense.
In haar vrye tyd gebruik sy haar kreatiwiteit en talent om ander te help. Sy doen naelversorging vir kliënte soos Marilize Jantjies in Conville, en die inkomste gebruik sy om kos en basiese benodighede vir mense in nood te koop.
Sy doen graag naelversorging vir ’n ekstra inkomste, om minderbevoorregtes te help.
"Sy het my al oorreed om piesangs en aarbeie vir honger gesinne te koop. Ek kon nie help om sakke vol kos aan te skaf nie," vertel haar ma, Marilyn Swartzs.
Jade kort na haar aanwysing as semfinalis. Sy wag tans op haar nuwe skouerband wat haar status as finalis aandui.
Jade neem ook gratis foto's by troues en matriekafskeide wanneer mense dit nie kan bekostig nie. "Sy gebruik 'n Nikon-kamera wat haar pa vir haar gekoop het. Verder koop sy klere en komberse by veilings om dit aan minderbevoorregtes te skenk," sê Swartzs.
"Jade is baie skaam van geaardheid en praat selde oor haar goeie dade. Met haar nuwe aanwysing as semifinalis in die skoonheidskompetisie word daar egter meer klem op hierdie tipe dinge gelê. Sy vra die gemeenskap se gebede en ondersteuning vir haar reis."
Volg Jade se reis op Instagram en Facebook 'Miss Teen Universe South Africa' of besoek www.missteenuniversesa.org.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’