Video
“Ek het net een skoot gehoor.” So vertel ’n geskokte Ejustley Boshoff, niggie van die oorledene, Grifford Figland (38), tydens ’n besoek aan die plek waar haar neef sy laaste oomblikke beleef het.
Boshoff woon oorkant die plek waar haar neef na middernag Dinsdagaand doodgeskiet is. Die detail rondom die gebeure is steeds onduidelik en die familie en vriende wat in die omgewing woon het baie vrae.
Volgens Boshoff het ’n ooggetuie, wat die toneel sien afspeel het, beweer dat hy wel Figland en ’n ander man sien handgemeen raak, waarna ’n polisievoertuig kort daarna op die toneel aangekom het.
Die skoot is glo kort daarna afgevuur.
Met ’n ter plaatse besoek gisteroggend, het talle aan George Herald gesê dat hulle nie verstaan hoekom dit gebeur het nie.
Figland word beskryf as ’n vredeliewende man wat eerder anderpad gekyk het as iemand hom sleg hanteer.
“Hy was nie lief vir geweld nie,” het almal beaam.
VIDEO - Ejustley Boshoff praat oor die gebeure.
Boshoff verduidelik dat haar neef so tussen haar huis en sy ouma se huis geslaap het, en dat hy vrylik kon kom en gaan soos hy wil. “Ek het ’n geklop gehoor so 00:20 [Woensdagoggend] en gedink dis seker Grifford,” vertel Boshoff.
“Net Grifford sou in my jaart kon kom, want ek het honde. Ek het sowat 'n uur later ’n skoot hoor afgaan. Net een skoot. Toe staan ek maar op en gaan kyk, want ek was bang dis dalk die sekuriteitsbeamptes wat dink Grifford breek in. Dis toe dat ek sien my deur staan oop.”
Grifford Figland wys vir sy niggie ’n lewendige spinnekop wat hy in die tuin gekry het. Hy was lief vir alle diertjies en goggas. Foto: Ejustley Boshoff
Volgens Boshoff was dit duidelik dat Figland probeer het om ’n gat te grawe, wat baie lyk soos ’n vlak graf. Dit is met ’n graaf gedoen wat hy by haar huis gekry het. Die graaf is intussen deur die polisie as bewysstuk gehou. Almal is oorbluf oor die “vlak graf” en verstaan glad nie hoekom Figland dit sou wou grawe nie.
VIDEO - Grifford Figland wys ’n lewendige spinnekop wat hy gevang het.
“Sowat drie jaar gelede is Grifford deur ’n Go George-bus raakgery. Hy het steeds rugpyn na daardie ongeluk,” sê Boshoff.
“Hy was nie fisies ’n baie sterk persoon nie. Ek kan nie dink dat hy soveel energie sou hê om die gat te grawe en mense nog met ’n graaf ook aan te val nie. Hy het wel, soos baie ander, dwelms van tyd tot tyd gebruik, maar hy was ’n goeie ou.
"Ek verstaan ook nie hoekom daar nie ’n waarskuwingskoot was nie, of hoekom hy nie eerder in die been geskiet is nie. Dit maak nie sin nie. Hy het baie respek gehad vir die een polisieman wat hier betrokke was. Hy het hom soortvan as ’n held vereer.”
Ejustley Boshoff, Grifford Figland se niggie, gesels oor die gebeure wat Woensdagoggend vroeg in die park oorkant haar huis plaasgevind het. Saam met haar is vriende en familielede. Foto: Michelle Pienaar
Figland se niggie het gisteroggend hierdie oorskot, vermoedelik beenfragmente, op die gras by die toneel opgetel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’