GEORGE NUUS - Die man wat die Bulle tot Superrugby-glorie en die Springbokke na wêreldhoogtes gelei het, is weer in die Suid-Kaap, waar alles vir hom begin het.
Meyer (58) se aanstelling as hoofafrigter van die Arende is meer as net 'n nuwe werk.
Dis 'n "full-circle moment", en moontlik die begin van 'n nuwe era vir SWD-rugby.
George Herald het met Meyer, wat 'n twee jaar kontrak met die unie geteken het, gesels oor sy terugkeer na sy afrigtingswortels, sy visie vir die span en sy hernude verbintenis met die streek waar sy loopbaan begin het.
"Ek het destyds hierheen gekom as 'n jong afrigter met groot ambisies en drome," vertel Meyer.
"Die span was op daardie stadium in 'n moeilike plek, maar ek wou die beste afrigter wees wat ek kon wees. Ons het 'n paar swaar nederlae gely, selfs met 140 punte, maar ek wou trots terugbring. Toe ons later begin wen en 'n vol stadion trek, was dit ongelooflik. Daardie atmosfeer, die spanning, die gemeenskap se ondersteuning, dit bly by jou."
Vir Meyer lê die bekoring in Suid-Kaap-se rugby in sy passievolle, maar dikwels onderskatte gees. "Ek was nog altyd die underdog. Ek kom nie van 'n groot rugby-skool af nie en ek was nooit 'n sterspeler nie. Maar ek het geleer om groot te dink en te droom en daardie energie wil ek hierheen bring. Hoe groter jy droom, hoe meer energie skep jy.
"Die Suid-Kaap het soveel talent, goeie klubspelers, uitstekende skole, maar ons moet groter dink. The sky should not be our limit, dis ons speelveld. 'n Arend vlieg hoog, dis daar bo waar ons moet veg," sê hy met 'n glimlag.
Meyer se fokus is duidelik op langtermyn-ontwikkeling eerder as vinnige resultate. "Ek is nie die quick-fix-tipe nie. Sukses kom wanneer jy strukture bou, mense ontwikkel, nie net bekers jaag nie. Dit vat tyd. 'n Trofee is maar net 'n blik; wat saak maak, is die verskil wat jy in spelers en in die gemeenskap maak."
Hy beklemtoon 'n holistiese benadering tot afrigting, een wat nie net die vaardighede van spelers slyp nie, maar ook hul karakter vorm. "Elke speler is 'n stukkie rou goud," verduidelik hy.
"Onder die regte leiding kan hy 'n diamant word. My filosofie gaan daaroor om die mens te bou, nie net die atleet nie."
Met 'n oog op die toekoms hoop Meyer om die trots van die Arende se rugbykultuur te herbou, met die steun van die gemeenskap en plaaslike besighede.
Hy is egter realisties oor die uitdagings wat voorlê, veral die huidige finansiële beperkings en die tyd wat dit verg om 'n wenkultuur te vestig.
"Ons begin onder. Ons is nie waar ons wil wees nie, maar ons sal daar kom, stadig maar seker," sê hy vasberade.
Hierdie posisie is vir hom allesbehalwe 'n "aftree-jobbie". "Ek het verskeie ander geleenthede gehad, maar hierdie een gaan oor teruggee.
"Ek glo ek kan baie bied aan plaaslike spelers en afrigters. Dis nie 'n stepping stone of gaan oor geld nie, dit gaan oor teruggee en bou. Ek het meer ervaring as toe ek hier begin het, maar ek het dieselfde honger en energie."
Ten spyte van die uitdagings, bly Meyer gefokus op die groter prentjie. "Ek is nie net hier vir 'n jaar of twee nie, ek is hier gewortel. Ons wil nie net 'n span bou nie; ons wil 'n akademie stig, strukture skep en trots kweek. Jy bou eers trots, dan volg die oorwinnings. 'n Kampioen word nie in bekers gemeet nie, maar in ingesteldheid. Dít is die nalatenskap wat ek wil los," het hy afgesluit.
Hoewel Meyer nog nie 'n volledige span het nie, werk hy reeds 'n geruime tyd agter die skerms om 'n groep spelers en afrigters saam te stel wat sy visie vir volhoubare groei deel. Hy toets die naweek 'n aantal klubspelers en beplan om teen Maandag met 'n kleiner oefengroep te begin.
Met Meyer terug aan die stuur, kan die Suid-Kaap dalk weer begin droom, en wie weet, dalk binnekort sien hoe die Arende weer hoog oor die plaaslike rugbytoneel sirkel.
Daar is planne om die sakevleuel van die unie aan 'n potensiële belegger te verkoop. Die meerderheid klubs het hulle ondersteuning aan die plan gegee. George Herald het verneem daar word gewag op goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru).
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’