GEORGE NEWS: Johan Havenga, tans woonagtig in Pretoria en 'n aktiewe lid van die Lynnwood-rolbalklub, is goed bekend in George.
Hy het in Mei 2001 by die George-rolbalklub aangesluit en het in 2006 en 2007 as president van die klub gedien. In 2009 is Johan as ontwikkelingsbeampte van die Eden-distrik aangestel en in 2011 is hy deur die Sportraad as afrigter van die jaar aangewys. Daardie jaar het hy ook die Sportlegende van die Jaar-toekenning van die Sportraad ontvang. By die klub het Johan in 2016 die Presidents-toekenning vir leierskap en toewyding ontvang, en is hy ook met lewenslange erelidmaatskap vereer.
Die legendariese man word Donderdag 6 November 'n volle 100 jaar oud. Dit is 'n besonderse mylpaal.
Johan Havenga. Foto: Verskaf
Daar word vermoed dat hy moontlik die oudste aktiewe rolbal-speler in Suid-Afrika, en waarskynlik in die wêreld, is. Baie geluk met jou verjaarsdag, oom Johan, nou vir die volgende honderd. Rol aan!