TUINROETE NUUS - Die naam van oud-Springbokafrigter Heyneke Meyer (57) word die afgelope aantal weke gereeld genoem as die moontlike nuwe hoofafrigter van die SWD Arende, ’n skuif wat die rugbylandskap in die Suid-Kaap ingrypend kan verander.
Volgens betroubare bronne is gesprekke tussen Meyer, wat die afgelope 10 jaar in Groot-Brakrivier woon, en die unie ver gevorder.
Indien die aanstelling realiseer, sal dit een van die grootste afrigteraanstellings in die geskiedenis van die Arende wees. Die span sukkel al vir jare om ’n stewige stempel in die Eersteliga van die Curriebeker-kompetisie af te druk.
Die hoofafrigterspos is sedert 1 Augustus vakant, nadat die seisoen afgehandel is.
So ver George Herald kon vasstel, kan die hoofafrigterspos egter nog nie gevul word voordat die beoogde ekwiteitsvennootskap met die unie finaal onderteken is nie.
Twee konsortiums is in gesprek met die unie: UXI en die Multisure-konsortium. Volgens betroubare bronne sou UXI se voorstel verlede week aan plaaslike klubs voorgehou word, maar die vergadering is uitgestel om Multisure die geleentheid te gee om sy voorstel binne 10 dae in te dien.
Beide voorstelle sal daarna aan die klubs voorgelê word en uiteindelik aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gestuur word vir ’n besluit.
Unie stil oor hoofafrigterspos
Intussen handhaaf die unie stilte oor die moontlike aanstelling. SWD-president Ben Brinkhuis wou by navraag geen kommentaar lewer nie. “Daar is nog nie enige aanstellings gemaak nie, en op hierdie stadium kan ek nie verdere kommentaar hieroor lewer nie,” het hy gesê.
’n Voormalige SWD-hoofafrigter, wat op voorwaarde van anonimiteit met George Herald gesels het, meen Meyer se betrokkenheid kan ’n waterskeiding vir die streek wees.
“Die Arende het lankal ’n groot naam nodig om die regte momentum te kry. Meyer bring ongelooflike ervaring en dissipline. Maar dit gaan ook belangrik wees dat hy die plaaslike kultuur en uitdagings verstaan.”
Verskeie plaaslike klubs het die moontlikheid met entoesiasme verwelkom.
“Ons hoor al lank van planne om SWD meer professioneel te maak. As Meyer werklik kom, kan dit die teken wees dat die unie ernstig is oor groei. Dit sal jong spelers motiveer om hier te bly en nie na groter unies te trek nie,” het een klubvoorsitter gesê.
Hoewel die unie nog geen amptelike bevestiging uitgereik het nie, is dit duidelik dat die moontlikheid reeds groot gesprekke in die Suid-Kaap ontketen.
Meyer se ervaring
Meyer het in 1998 as hoofafrigter sy loopbaan by die Arende begin. Hy het ’n jaar vantevore as assistantafrigter onder leiding van Phil Pretorius by die Arende aangesluit.
Hy het van 2000 tot 2007 die Blou Bulle afgerig en vier plaaslike titels gewen. In dieselfde tyd het hy die Bulls in die Super Rugby gelei en in 2007 die kampioenskap gewen. In 2012 is hy aangestel as Springbok-afrigter en het hy in 2015 die span tot ’n derde plek in die Wêreldbeker gelei.
Sportkonsortiums kan nuwe era vir SWD inlui
Hugo Redelinghuys, vryskutjoernalis vir George Herald, het verlede week berig dat die toekoms van rugby in die SWD dalk binnekort herskryf kan word mits die planne van professionele sakelui realiseer.
Twee groot sportkonsortiums, UXI en die Multisure Corporation, toon belangstelling om by die SWD betrokke te raak. Albei mik om ’n meerderheidsaandeel in SWD se sakearm oor te neem.
Realiseer dié planne, sal die unie nie net ’n groot finansiële hupstoot kry nie, maar sy amateurstatus na ’n professionele vlak verhoog.
En die potensiële uitbetaling? Finansiële rugsteun, ’n (meer) professionele struktuur en nuwe lewe vir die unie.
Vir die senior mans- én vrouespanne beteken dit onmiddellike versterking. Vir die klubs - die hart van SWD-rugby - wag broodnodige hulpbronne en ontwikkelingsgeleenthede.
Die UXI-konsortium, wat daarna mik om beheer oor die senior Arende-manspan sowel as die SWD-vroue- en o. 21-span te kry, het sekere voorstelle aan die unie se klubvoorsitters voorgelê. Betroubare bronne, wat verkies om anoniem te bly, sê dié voorstel “lyk goed op papier...”
Brinkhuis het by navraag hieroor gesê die unie het by ’n keerpunt gekom. “Ná ’n seisoen waar die SWD Arende se senior manspan gesukkel het, staan die SWD-rugbyunie nou voor ’n gulde geleentheid om die groot liga te betree.
"Ons sukkel om tred te hou met die groot unies soos die Stormers en die Sharks. Om mededingend te wees, het ons eksterne steun nodig. Hierdie konsortiums kan dit bring. Dit gaan ook oor meer as net geld wat ingebring word. Ons kan baat by ’n groter professionele aanslag, en daarvoor het ons kundiges nodig.
"Rugby is ’n besigheid, en ons het sakebreine nodig om hier leiding te gee en die rugbyskip op koers te hou,” het Brinkhuis gesê.
Brinkhuis sê die besluit lê eers by die klubs, wat moet kies watter aanbod die beste vir die streek is. Maar die laaste sê lê by Saru. Hy sal eers ’n deeglike ondersoek doen voordat ’n finale ooreenkoms gesluit word.
As Saru die groen lig gee, kan SWD-rugby met vertroue vorentoe kyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’