“Wie het vir my ‘n light?” Sy hou ‘n sigaret tussen haar duim en voorvinger vas, soos ‘n regte skollie. ‘n Dik blonde poniestert hang oor haar een skouer.
“Margo?” Sy kyk vraend na my. Ek skud my kop. Dis genoeg dat ek soos ‘n magneet na die vreemde kind aangetrek word. Ek gaan nie verder as dit gaan en lighters in my skoolrok ronddra nie. Karen bring ‘n pakkie vuurhoutjies na vore en bied dit aan soos ‘n skat. Sy gaan staan styf teen Angelique en hou die vlam met ‘n bakhand lewendig.
Angelique is tevrede. Die sigaret word deur almal gedeel – daar is min tyd oor voor pouse verby is, ons moet double clutch.
Sy het iewers aan die begin van matriek by ons skool aangekom. En saam met haar, ‘n fassinerende donker wolk wat soos ‘n swart mantel om haar hang. “Angelique arrived,” sê die mantel. Hierdie is ‘n soort leierskap waaraan ek nie aan gewoond is nie. Dit is opwindend en interessant.
Die stories oor Angelique is net so prikkelend. “Het julle gehoor? Sy is geskors by die vorige skool.” En, “Angelique en haar broer het hulle ouers se huis afgebrand. Dis hoekom hulle moes skuif.”
Wie weet wat werklik gebeur het. Sy wil nooit aan daai aas byt nie. Wat gaan sy volgende doen? Hoe oorleef sy en haar broer? Die rumour is dat hulle alleen bly.
Intussen hou ek haar dop soos ‘n antropoloog. Sy is baie intelligent, en totally damaged. Hierdie wenner-kombinasie het baie potensiaal.
“Kom ons split môre tweede pouse,” stel Angelique voor. In die groep is elkeen besig om hul rooster te probeer onthou. Hoe diep in die moeilikheid gaan ons wees? Ek het afperiodes, so daar is min stres. Amazing hoe almal gretig is, maar nie ‘n idee het wat sy in die mou voer nie. “Ek dink ons gaan bietjie berg toe, en chill net.” Almal is in – dis ‘n goeie idee.
Niemand vra hoe ver die berg is nie. Praat sy van Onder-Papegaaiberg? Simonsberg? Jonkershoek? Op die ou end was dit die naaste ‘berg’ aan die skool. Die bos bo Coetzenburg-atletiekveld. Maar dit sou ons eers die volgende dag uitvind. Met Angelique is alles op ‘n need to know basis. Dit het niemand gepla nie.
In die Skeinatklas kyk juffrou Boots stip na die klas. ‘n Ma wat haar dogter by die spogskool wou inskryf, het ‘n groep kinders sien rook langs ‘n muur. Nou is die neusie verby. Haar oë rus vir ‘n oomblik op my, maar ek weet sy kan niks ruik nie, want sy rook self. “As julle van sulke goed weet, moet julle dit aanmeld,” sê Boots. Ja, sure.
Die volgende dag kry ons mekaar by die Eersterivier, langs die skoolhek. Ons gaan eers snacks kry, sê Angelique. Niemand het ooit veel geld nie, so ek is onseker hoe dit gaan werk. “Moenie worry nie, Margo. Jy sal sien.” Ek moes dit seker sien kom het, maar ek het nie. Toe ons in die kafee inloop, lyk die eienaar senuagtig. Ons split in twee groepe – hy weet nie waar om dop te hou nie.
“Kies vir jou ene,” sê Angelique by die sjololaderak. Soos asof ek ‘n afstandbeheerkarretjie is, sien ek my eie hand vinning vorentoe skiet, ‘n Bar One gryp, en in my sak druk. Die skok moes oor my gesig gelê het soos ‘n lap. Soos ek uitstap voel dit of almal kan sien wat ek gedoen het. Ek voel naar. En ek weet, hierdie sjokolade gaan ek nooit eet nie.
“Doen julle dit baie?” vra ek flou. Sy skud net haar skouers op ‘n weird manier, kyk weg. “Sien, dis maklik,” sê sy. Maar ek weet nie so mooi nie. Daar is niks makliks aan steel nie. My hande en voete is vol lood. Ek moet konsentreer om reg te stap. Ek sien Ashley kou rustig aan ‘n chomp.
Al die pad na Coetzenburg loop my kop in ander paadjies rond. Is dit my crowd? Daai gevoel wat jy kry wanneer jou ma ‘n wit frillietjiesrok oor jou kop trek en vir jou vertel hoe mooi jy lyk. “Dis nie ek nie,” wil jy sê. Wie is Margo?
Ons spandeer die hele oggend en vroegmiddag in die “berg”. Hulle rook sigarette en praat oor seuns, die naweek wat voorlê.
Vir die eerste keer sien ek iets wat my bang maak. Angelique se oë.
Die draadheining tussen ons word ‘n baksteenmuur. Toe ons terugstap weet ek, dit is die laaste keer. Ek voel alleen, maar daar is ook ‘n soort rustigheid. Ek is eerder alleen, as hier.
*******************
Twee jaar nadat ek matriek geskryf het, loop ek in Loopstraat, in Kaapstad, saam met twee vriende van universiteit. Die straat is donker en oral roep die kuierplekke met flikkerende liggies. Ons parkeer ver, want dit is ‘n besig aand.
Ek hou my boyfriend se hand vas. Alles lyk so groot, so ver en vreemd. Ek dink dit was die swaai van haar lyf, die manier waarop sy haar sigaret vashou, en die dik bos blonde hare, wat my oog gevang het. Ek draai vinnig om en kyk agterna.
“Moenie so staar nie,” sê my boyfriend. “Het jy nog nooit ‘n prostituut gesien nie?”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’