Update
GEORGE NUUS - 'n Familie van George kan nou met 'n bietjie lig in hul harte asemhaal nadat hulle al R302 000 ingesamel het om hul geliefde, Eric Filmalter (26), se liggaam na Suid-Afrika terug te bring. Die fondsinsameling beteken dat Filmalter se se familie finaal van hom kan afskeid neem.
"Ek is sprakeloos. Die Here het net 'n wonderwerk verrig. Ons gee Hom al die eer," sê Laurette Grobler, Filmalter se suster. "Ons is so dankbaar dat ons kan treur en hom huis toe bring. Dis genade onbeskryflik groot."
Die plan is om Eric teen einde Januarie George toe te bring.
Volgens Grobler begin die familie nou om verdere reëlings vir die herdenkingsdiens te tref. "Ons weet dit is 'n voorreg om hom hier tot ruste te lê," voeg sy by.
Enige oorblywende fondse sal gebruik word om sy weduwee, Manisha Filmalter, en sy ma te ondersteun. Beide Filmalter en sy vrou is oudleerders van Hoërskool Outeniqua en was onafskeidbaar.
Filmalter het op 28 November (27 November Amerikaanse tyd) gesterf na 'n noodlottige skietvoorval op 'n plaas in Goldfield, Iowa.
Volgens sy suster het die ongeluk gebeur terwyl hy vir drie jonger mans, wat saam met hom op die plaas gewerk het, gewys het hoe om 'n pistool veilig te hanteer.
"Die loop het na hom gewys toe die skoot afgaan. Die ouens wat daar saam met hom was sê hy het 'n glimlag op sy gesig gehad, en toe is hy weg. Dit het so vinnig gebeur," vertel Grobler.
Die familie se oorsprong lê in Limpopo, waar hulle geboer het.
"Eric [Filmalter] was lief vir sy familie, sy vrou en sy land. Hy was beskermend en braaf. Ek sal nooit weer 'n geliefde as vanselfsprekend aanvaar nie. Sy afsterwe laat my aan die Here vasklou, maar dit het my ook geleer dat enige dag jou laaste kan wees. Ek wens ek het meer tyd gehad om vir hom te wys ek is trots op hom en lief vir hom," sê Grobler.
Die familie is oorweldig deur die gemeenskap se ondersteuning.
"Ons is totaal verslae met die liefde en meegevoel wat mense vir ons getoon het. Ek kyk na ons toekoms met nuwe oë. As daar soveel wonderlike mense in die wêreld is, kan ons toekoms net beter wees. Ek en my ma bid gereeld dat almal wat goed vir ons is net goedheid en guns sal ervaar. Baie dankie aan elke persoon wat aangeraak is deur ons geliefde Eric se storie. Dit maak hierdie hartseer tyd vir ons soveel ligter," sê Grobler.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’