GEORGE NUUS - Die Green Gardens Foundation (GGF) in Syferfontein groei teen 'n merkwaardige tempo en maak 'n merkbare verskil.
Hul maandelikse markdag, waar vars produkte teen bekostigbare pryse verkoop word, lok elke keer meer besoekers. Só sê die organisasie se Ancheleen Terblanche.
GGF is in 2011 gestig toe vyf huishoudings in Syferfontein 'n behoefte aan voedsame kos, ondersteuning en gemeenskapsontwikkeling raakgesien het. In 2019 is die organisasie formeel as 'n niewinsgewende entiteit geregistreer.
Vandag huur hulle 'n stuk grond van 20,5ha van die George-munisipaliteit, waar hulle boer en volhoubare projekte ontwikkel.
Deur hul werk ondersteun GGF tans ses vroeëkinderontwikkelingsentrums in Rosedale, Reigerpark en Syferfontein. Hierdie programme sluit vars produkte, opvoedkundige ondersteuning en toegang tot voedsame maaltye in.
Elke Woensdag bedryf hulle 'n sopkombuis by die Pacaltsdorp-kliniek, waar pasiënte warm, voedsame sop ontvang.
"Ons visie is 'n gesonde, hongervrye en veilige gemeenskap. Ons doel is om voedsame kos te bevorder en mense te laat groei deur werksgeleenthede te skep," sê Terblanche.
Bestuurslede van Green Gardens is van links: Annelise Arendse, Mary Ann Witbooi, Anceleen Terblanche en Andrew Fluks.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’