GEORGE NUUS - Dr. Percy van Wyk, 'n geliefde dokter vir baie in George en die Tuinroete, is op Vrydag 21 November in die ouderdom van 81 jaar oorlede.
Van Wyk se seun, Dawie, het gesê sy pa was 'n mentor vir baie en 'n ware familie-man. Hy het vir 43 jaar as algemene praktisyn in George gepraktiseer voordat hy in 2020 afgetree het.
"Sy loopbaan en roeping is gevorm deur sy buitengewone toewyding aan mense, nie net as geneesheer nie, maar ook as vriend, raadgewer en stil ondersteuner vir baie. Sy empatie, nederigheid en warmte het 'n blywende indruk gelaat op almal wat die voorreg gehad het om hom te ken," het Van Wyk Jnr. gesê.
"Ons sal hom altyd onthou as 'n gelowige en passievolle persoon wat sy familie op die hande gedra het, sy pasiënte met integriteit versorg het, altyd goeie advies gegee het, en 'n liefde vir syfers gehad het."
Van Wyk was ook 'n senior vlieg- mediese beampte en het die vereiste mediese ondersoeke gedoen vir vlieëniers in Suid-Afrika en ook uit die buiteland.
Hy was baie lief vir musiek, veral klassieke musiek, en vir sport. Hy was vroeër lid van die George-gholfklub, het liga gespeel vir die George-tennisklub, het 129 parkruns agter die rug en het die Meiringspoort 12,5 km-wedloop twee keer voltooi. Hy was verder 'n uitmuntende skaakspeler.
Van Wyk Jnr. sê sy pa se gesondheid het die laaste paar jaar verswak en hy is rustig oorlede. Hy laat sy vrou Lydia, vier kinders en sewe kleinkinders agter.
"Ons sal sy liefde, wysheid en stille krag altyd onthou. Sy heengaan laat 'n groot leemte, maar sy voorbeeld van mede-menslikheid, wysheid en diensbaarheid sal vir altyd voortleef."
'n Gedenkdiens vind plaas op 11 Desember om 11:00 by die NG Kerk Blanco. Die diens sal ook aanlyn uitgesaai word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’