GEORGE NUUS - Skrikkeldag skrik nie alle mense af om groot dinge aan te pak nie, soos Kevin en Fredeline Damons wat Saterdag 29 Februarie gekies het om die knoop deur te haak.
"Ons wou aanvanklik in Maart trou, maar Vader Cosmos vir wie ons baie lief is, moes na Nigerië vertrek en hy kon ons net in Februarie trou, toe kies ons maar hierdie datum.
"Ons het nog nie regtig gedink wanneer ons ons huweliksherdenking sal vier nie, ek dink dalk op 28 Februarie. Ons seuntjie, Ernest verjaar ook in Februarie."
Die twee het ewige trou beloof in die Vintcent Palotti Katolieke kerk op Pacaltsdorp en daarna is daar heerlik gekuier by die pragtige Déja Vu-venue in die Blanco-omgewing.
"Dit was fantasties. Al ons familie was daar. My familie is van George, maar Kevin se familie het van die Kaap af gekom om die dag met ons te deel."
Gevra of sy besef die "sewe jaar toets" (seven year itch) gaan nou eers oor 28 jaar kom, het sy gelag en gesê hulle is darem al reeds 14 jaar saam.
"Ons het ook 'n dogter van 11, Erin-Joy, en het besluit dis tyd dat ons dit nou amptelik maak."
Daar is nie nou sprake van 'n wittebrood nie, want die kinders moet skoolgaan, maar hulle gaan in Maart as 'n gesin bietjie wegbreek na Port Elizabeth wanneer hul dogter in Grahamstad gaan hokkie speel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'