Update
GEORGE NUUS - Die onsekerheid en polemiek wat ontstaan het oor die moontlike verwydering van kissies en gedenkstene vir afgestorwenes aan die suidwestelike punt by Victoriabaai, kry nou aandag van die Garden Route-distriksmunisipaliteit.
George Herald het in Januarie berig dat inwoners van die gewilde oord tydens 'n vergadering in Desember besluit het dat daar gepoog moet word om dit te verwyder. Sedertdien is wye reaksie ontvang en die familie van die Afrikaanse sanger, wyle Lucas Maree, het uit eie wil besluit om sy gedenksteen te laat verwyder.
Die George-munisipaliteit het alle navrae oor die kissies en gedenkstene na die distriksmunisipaliteit verwys en 'n verklaring uitgereik. Klaarblyklik is die grond waarop die kissies en gedenkstene is, die verantwoordelikheid van die distriksmunisipaliteit.
In die verklaring stel die George-munisipaliteit dit dat hy van mening is dat die kissies nie daar toegelaat moet word nie en dat die distriksmunisipaliteit 'n kennisgewing moet uitreik en die eienaars van kissies 'n sekere tyd moet gee om die kissies te verwyder, en dan die oorblywende kissies self verwyder.
Die distriksmunisipaliteit het by navraag gesê hy het begrip vir die besorgdheid wat deur toeriste en/of mense wat soms Victoriabaai besoek geopper is. Die aangeleentheid kry daadwerklik aandag.
Lusanda Menze, bestuurder vir beplanning en ekonomiese ontwikkeling van die distriksmunisipaliteit, het gesê die instansie is bewus van die sensitiwiteit van die aangeleentheid. Daar word intern gekonsulteer om seker te maak dat 'n vriendskaplike oplossing verkry word. As daar 'n behoefte is, sal uitgebreide konsultasie met al die belanghebbendes plaasvind. Sodra 'n besluit geneem is, sal dit bekendgemaak word.
Een van die inwoners het Maandag gesê hulle het nog geen terugvoering van die owerhede ontvang nie. Volgens die inwoner is daar wel die afgelope tyd kissies en gedenkstene verwyder. "Dit lyk al beter."
Die inwoners het ook regsadvies ingewin en hou hul opsies oop.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'